Willie Kahts
Full names: Wilhelm Julius Heinrich
Date of birth: 20 Feb 1947
Place of birth: Pretoria
School: Volksrust
Springbok no: 509
Debut test province: Northern Transvaal
Physical: 1.8m, 94kg
Current age: 77

Test summary: Tests: 11 Tries: 1
First Test: 31 May 1980 Age:33 Hooker against Britain at Newlands, Cape Town
Last Test: 3 Apr 1982 Age:35 Hooker against South America at Free State Stadium, Bloemfontein
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv
31 May 198033HookerBritainWin: 26-22 Newlands, Cape TownN-Tvl
14 Jun 198033HookerBritainWin: 26-19 Free State Stadium, BloemfonteinN-Tvl
28 Jun 198033HookerBritainWin: 12-10 Boet Erasmus, Port ElizabethN-Tvl
18 Oct 198033HookerSouth AmericaWin: 22-13 Wanderers Club, MontevideoN-Tvl
25 Oct 198033HookerSouth AmericaWin: 30-16 Prince of Wales Country Club, SantiagoN-Tvl
08 Nov 198033HookerFranceWin: 37-151 tryLoftus Versfeld, PretoriaN-Tvl
30 May 198134HookerIrelandWin: 23-15 Newlands, Cape TownN-Tvl
06 Jun 198134HookerIrelandWin: 12-10 Kingspark, DurbanN-Tvl
29 Aug 198134HookerNew ZealandWin: 24-12 Athletic Park, WellingtonN-Tvl
27 Mar 198235HookerSouth AmericaWin: 50-18 Loftus Versfeld, PretoriaN-Tvl
03 Apr 198235HookerSouth AmericaLose: 12-21 Free State Stadium, BloemfonteinN-Tvl

Willie Kahts : Albert Heenop

Oud-Bokhaker Willie Kahts spog met 35 jaar diens in die onderwys, waarvan 10 as hoof van Hoërskool Langenhoven in Pretoria. En, die onderwys het, 50 jaar gelede, hom amper sy debuut vir Noord-Transvaal gekos. “Met ’n halfdosyn spelers op toer saam met die Springbokke na Australië in 1971, was ek uitgenooi na die Noord-Transvaalse proewe as ’n 24-jarige haker van Oostelikes,” onthou Kahts, wat in 1999 aangewys was as Oostelikes se Speler van die Eeu.

“Ek het sopas begin skoolhou by Langenhoven, en die destydse hoof, Dr Rautenbach, het op kenmerkende wyse benadruk: ‘Broer, jou eerste verpligting vanmiddag is teenoor die krieketspannetjie wat jy moet afrig; daarna kan jy by die proewe uitkom…’ “Aangesien ek nie ’n kar besit het nie, het ek, na die krieketoefening, vanaf Langenhoven die lang tog na Loftus (Versfeld) te voet aangepak.

“Ek het spoedig besef dat ek nooit betyds sou wees nie, en vanaf die naaste tiekieboks vir Salty du Rand, sameroeper van die keurkomitee, geskakel. “‘Oom Salty, ek gaan dit nie maak nie…’ het ek hom laat weet, maar net toe ek uit die telefoonhokkie stap het een van my mede BCom-studente by Tuks, waar ek verder gestudeer het, langsaan stilgehou en gevra: ‘Is jy nie veronderstel om vanmiddag proewe te speel nie?’ “Hy het my Loftus toe gehaas, waar die ouens reeds in die tonnel reggestaan het om op te draf. Salty het my egter raakgesien, en geskree: ‘Trek aan! Ons wag vir jou…’

“So het dit gekom dat ek sowaar kon speel, boonop ’n goeie wedstryd gehad het vir die C-span en daardie Saterdag my buiging vir Noord-Transvaal kon maak.”

Kahts sou van 1971 tot 1983 die Ligbloues uiteindelik 110 keer verteenwoordig, waarvan sewe Curriebeker-finale was.

Van die sewe, het hy slegs een eindstryd, teen WP in 1982, verloor. Sy eerste blootstelling aan die drukkoker-atmosfeer van ’n finaal was in 1974, teen Transvaal op Loftus Versfeld. Met speeltyd reeds verstreke, het Noord-Transvaal geklou aan ’n naelskraapse voorsprong van 17-15, toe ’n skrum vlak voor hul pale aan Transvaal toegeken is. Springbok-skerpskutter Gerald Bosch, wat reeds 11 van die Rooibontes se punte met die stewel aangeteken het, het stelling ingeneem, oorgehaal vir ’n verspotmaklike skepskoppoging wat ’n sege aan sy span sou besorg.

Kahts het egter ’n kritieke vasskop behaal, wat oorwinning aan die Ligbloues verseël het. “Dit was ’n gesamentlike poging deur die pak,” is sy beskeie herinnering van die insident. “Daai dae kon ’n haker egter nog behoorlik haak, maar jy kon ook ewe maklik ’n strafskop afstaan vir voet op of ’n skewe ingooi.”

Eienaardig genoeg sou Kahts bykans 10 jaar na sy debuut vir Noord-Transvaal eers die groen en goud oor die kop trek. “Oor die jare het heelwat mense die mening gelug dat ek die nr.1-haker in die land was, maar tot en met 1980 het ek nooit ’n toets gespeel nie, en, op die ouderdom van 33, het ek begin dink dat dit my nooit beskore sou wees nie,” vertel hy. “Maar daar word ek toe wraggies gekies vir die reeks teen Bill Beaumont se Britse & Ierse Leeus in 1980, en dit was voorwaar ’n voorreg, want nie alle spelers kry ’n kans om met die Leeus kragte te meet nie.”

Kahts sou nie bloot deel uitmaak van Morné du Plessis se Bokspan wat die Britte met 3-1 getroef het in die reeks nie, maar het homself inderdaad gevestig as Suid-Afrika se voorste nr.2. Hy het ook die opspraakwekkende betogertoer na Nieu-Seeland in 1981 meegemaak, en het, nadat hy die eerste verloortoets teen die All Blacks moes uitsit, sy plek teruggewen vir die allerbelangrike tweede toets in Wellington.

Dié kragmeting, wat Suid-Afrika oortuigend met 24-12 sou wen, het egter na slegs vier minute op rampspoedige wyse vir Kahts tot ’n einde gekom.

“Ek het die All Black-vleuel Fred Woodman geduik, en in die daaropvolgende losskrum is my skouer totaal ontwrig en het ek in die hospitaal opgeëindig. “Dis egter belangrik om nie toe te laat dat so ’n teleurstelling ’n mens onderkry nie.”

Kahts het terrugeveg in 1982 om ’n verdere twee toetse by te voeg en sy totaal op 11 te staan te bring. Van die 11 sou hy slegs een verloor - die laaste teen die Suid-Amerikaanse Jaguars, oftewel teen Hugo Porta. Die Argentynse meester-losskakel het op eie houtjie die Bokke ore aangesit met ’n drie, doelskop, vier strafdoele en ’n skepdoel, vir ’n skoksege van 21-12.

“Ons was nie 100% voorbereid vir daardie kragmeting nie,” meen Kahts. “Ons het die week vantevore die Jaguars met 50-18 oorrompel, en het onbewustelik dit as vanselfsprekend aanvaar dat ons weer op ’n drafstap sou wen.

“Ons was sielkundig nie reg ingestel nie, en dit kom ’n mens telkens duur te staan. “Nes dié slag toe Noord-Transvaal teen Suidoos-Transvaal (deesdae Pumas) op Witbank gespeel het, en ek 10 vasskoppe teen Richard Cooke afgestaan het.”

Hoewel’n gebore en getoë Pretorianer, het Kahts egter sy hoërskoolloopbaan ook in die hedendaagse Mpumalanga voltooi. Om die waarheid te sê, hy is die enigste Springbok-rugbyspeler wat deur Hoërskool Volksrust opgelewer is. Interessant genoeg, het Kahts nooit Volksrust se eerstespan gehaal nie.

“Ek het senter en losskakel gespeel, maar, hoewel ek skolerugby geniet het, het ek nie oor die nodige spoed beskik wat agterlangs nodig was nie. “Dit was eers toe ek onderwys begin swot het aan die Normaalkollege in Pretoria, dat ons rektor en voorspelerafrigter, Mof Marais, vir my, aanvanklik teen my wil, haker toe geskuif het, dat my rugbyloopbaan vordering begin toon het.”