Jan Schlebusch
Full names: Jan Johannes Jacobus
Date of birth: 5 May 1949
Place of birth: Kroonstad
School: AHS Kroonstad (Rooiskool)
Springbok no: 472
Debut test province: Orange Free State
Physical: 1.85m, 86kg
Current age: 73

Test summary: Tests: 3 Tries: 0
First Test: 13 Jul 1974 Age:25 Inside Centre against Britain at Boet Erasmus, Port Elizabeth
Last Test: 28 Jun 1975 Age:26 Inside Centre against France at Loftus Versfeld, Pretoria
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv
13 Jul 197425Inside CentreBritainLose: 9-26 Boet Erasmus, Port ElizabethOFS
27 Jul 197425Inside CentreBritainDraw: 13-13 Ellispark, JohannesburgOFS
28 Jun 197526Inside CentreFranceWin: 33-18 Loftus Versfeld, PretoriaOFS

Jan Schlebusch : Suparugby

Jan Schlebusch, een van Vrystaat se staatmaker-senters in die goue sewentiger-era, se loopbaan was kwaai gekortwiek deur beserings. ‘Schlee’, soos sy spanmaats hom nou nog noem, het nietemin’n paar onvergeetlike hoogtepunte op die rugbyveld beleef, en van daardie groot oomblike het heel uit die bloute gekom.

Soos toe hy in 1970, as ‘n Kovsie-derdejaar van skaars 21, opdrag gekry het om die magtige All Blacks aan te durf. “Ek het die jaar vantevore vir Vrystaat o.20 gespeel, en is vroeg in 1970 gekies vir die seniors se eerste wedstryd van die seisoen, teen Oos-Vrystaat,” onthou hy.

“Ons het ‘n wegholoorwinning behaal, en ek het gedog dat ek redelik goed gevaar het. “Maar toe drop hulle my wragtig. “Hulle het my teruggebring vir die derde wedstryd teen Rhodesië, in Salisbury, wat ons ook ver gewen het, maar daarna was ek lank buite aksie met ‘n besering. Toe die Julie-vakansie aanbreek het ek oudergewoonte gaan werk by Massey Ferguson op Kroonstad.

“Daar het ek ‘n oproep van die Vrystaatse Rugbyunie ontvang om die betrokke Donderdagaand by Vrystaat-stadion aan te meld. My broer het my Bloemfontein toe gery en daar aangekom het ek gesien dat die keurders op die kantlyn staan en gesels het met die Vrystaat-senter Poen Burger.

“Nadat hy eenkeer stadig om die veld gedraf het, het die keurders my nadergewink en gesê: ‘Poen het onttrek; jy speel Saterdag (teen die All Blacks)...’ “Dit was ‘n geweldige skok. Skielik sou ek met groot name soos Grahame Thorne en Wayne Cottrell moes meeding.

“Ek het vir omtrent ‘n uur verder saam met die Vrystaat-span geoefen, en is daarna terug Kroonstad toe. Die Saterdag het my broer my weer deurgevat Bloem toe. “En, ek was ‘n wrak. Op daai stadium sou ek enigiets doen net om nie hoef te gespeel het nie. “Joggie Jansen, wat my sentermaat sou wees, het gesien dat ek so wit soos ‘n spook was en na my toe gekom: ‘Jan, hierdie ouens is nie beter as jy nie; kom ons vat hulle...’ “Dié bemoedigende woorde het ongelooflik gehelp en, hoewel ons uiteindelik verloor het, het dit het nie sleg gegaan.”

So het Schlebusch sy Vrystaat-vuurdoop in herinnering gebring vanuit Umhlanga Rocks, waar hy reeds meer as 20 jaar woon. Hy is deesdae “amptelik op pensioen”, maar, met ‘n meestersgraad in Chemie, het hierdie oud-onderywser van Grey Kollege tot vier jaar gelede nog konsultasiewerk vir Sappi op die Noordkus verrig. “As tegniese bestuurder het ek markte ontwikkel op hul afvalprodukte,” verduidelik hy, “maar nou is ek klaar, en is tyd my eie.”

Dit beteken meer tyd om met vroulief, Desiree, met wie hy bykans 50 jaar getroud is, en die familie deur te bring. Schlebusch-hulle het twee kinders, Zona, ‘n apteker op Langebaan, en Jay Jay, ‘n makelaar in Mt Edgecombe, asook vier kleinkinders.

Jan Schlebusch se eie kinderjare was nie maklik nie. Sy pa het verdrink, ten aanskoue van die familie, toe Schlebusch maar sewe jaar oud was. “My ma moes ons vier kindertjies, wat se ouderdomme gewissel het van een tot 10 jaar, alleen grootmaak. Dit was taai, maar het waarskynlik van ons beter mense gemaak.”

Rugby het uiteraard ‘n waardevolle ontsnappingsklep gebied, en Schlebusch het floreer op Afrikaans Hoër Kroonstad, oftewel Rooiskool. In standerd nege het hy vir Noord-Vrystaat Skole verteenwoordig en in matriek selfs ‘n keer vir Vrystaat Skole uitgedraf.

Na ‘n jaar van militêre diensplig by 1 Spesiale Diensbataljon te Tempe, het hy sy studies voltooi aan UOVS, waarna hy onderwys gegee het aan Grey - saam met ander toekomstige Bokke soos Gerrie Germishuys, Jackie Snyman en Barry Wolmarans.

Rugby het deurentyd ‘n sentrale plek ingeneem, en Schlebusch het homself vinnig gevestig as ‘n Vrystaat-senter van formaat. “Die 1972-seisoen was een van die lekkerstes,” meen hy. “Nelie Smith (afrigter) het begin met groepoefeninge, wat geskoei was op Wallis se wenpatroon van daardie tyd, en Vrystaat het lekker hardlooprugby gespeel. Ons het ouens gehad wat kon hol met die bôl. “Een so ‘n ou was Pikkie du Toit, wat my sentermaat was vir bykans die helfte van my Vrystaat-loopbaan, en, natuurlik, Gerrie Germishuys; ‘n mens het geweet dat as jy vir Gerrie net ‘n halwe tree gee, is hy weg.”

Die beseringspook wou egter nie wegbly nie, en in 1974 was Schlebusch nie eens in Vrystaat se oefengroep betrokke nie. “Ek het in ‘n woonstel by Naval Hill gebly, en saans die heuwel begin uithardloop om my fiksheid te herwin,” vertel hy. “Daar het Nelie se vrou, Orna, my een aand gewaar terwyl ek oefen, en die volgende dag het Nelie my uitgenooi om by die oefengroep aan te sluit. ‘n Week later was ek ingesluit in die Vrystaat-span wat die Britse & Ierse Leeus die stryd moes aansê.”

Vrystaat het hul uitstekend van hul taak gekwyt en naelskraap met 9-11 verloor. “Nelie het ons taamlik opgepsyche vir daardie wedstryd, en net voor ons die kleedkamer verlaat het om op te draf het ek ‘n krapgeluid in die stort gehoor. Toe ek die gordyn wegtrek, daar sit Johan de Bruyn (slot), besig om sy studs skerp te maak op die betonvloer. “‘Hulle gaan dinges vandag,’ het hy gemor.’”

Schlebusch moes verál beïndruk het teen die Leeus, want twee weke later was hy op senter ingesluit in die Springbokspan vir die derde toets in Port Elizabeth. Hoewel Suid-Afrika nog ‘n loesing van 9-26 op die lyf geloop het, het Schlebusch sy plek behou vir die vierde en laaste toets voor 75,000 toeskouers op Ellispark, wat, na ‘n titaniese stryd, met 13-13 gelykop geëindig het.

Hy het ook ‘n prominente rol gespeel in Peter Cronje se omstrede drie - Suid-Afrika se enigste in die reeks van vier toetse.

“Ek onthou duidelik, toe Chris Pope die bal binnetoe geslinger het en dit op die grond te lande gekom het, het ek gegly en nie aan die bal geraak nie.

Dus, sover dit my aangaan, het ek beslis nie aangeslaan nie, en was Max Baise korrek om die drie toe te geken het.”

Eienaardig genoeg, was Schlebusch nie ingesluit in die Boktoerspan na Frankryk aan die einde van 1974 nie, en hy eers bykans ‘n jaar later sy terugkeer tot die toetsarena gemaak, in die tweede toets teen Frankryk op Loftus Versfeld in 1975 - wat Suid-Afrika oortuigend gewen het met 33-18.

“Ek weet nou nog nie hoekom ek uitgelaat was vir die 1974 toer nie,” sê Schlebusch. “Persoonlik voel ek dat ek goed gevaar het in die vierde toets teen die Leeus. Ek het my maar daarby berus dat die keurders nie tot ‘n vergelyk kon kom nie. “Buitendien het ek en Desiree beplan om daardie tyd te trou, en sou die troue uitgestel moes word as ek die toer na Frankryk meegemaak het.”

Schlebusch was ook een van die Vrystaathelde wat op hartverskeurende wyse die dramatiese Curriebeker-eindstryd van 1975 teen die magtige Noord-Transvaal in die doodsnikke met 6-12 verloor het. “Die telling was 6-6 met tyd verstreke, toe Noord-Transvaal ‘n losbal gewen en langs die agterlyn af laat loop het,” onthou hy.

“Ek het vir Gerrie (Germishuys) geskree om terug te val, want ek wou vir Christo Wagenaar (Noord-Transvaal senter) met bal en al probeer vang. En, sowaar, die oombik toe hy die bal kry, toe loop ek hom onderstebo.

“Op een of ander manier het Christo dit egter reg gekry om steeds vir die hoekvlag te skop, en toe ek van die grond af opstaan moes ek toekyk hoe Pierre Spies in die hoekie druk. “Dit was ontsettend hartseer; ons moes nooit daai game verloor het nie.”

Schlebusch het Vrystaat in nog twee Curriebeker-finale (1977-78) verteeenwordig, voordat hy besluit het om sy stewels op te hang. “Dit het ‘n stadium bereik wat ‘n mens nog die gaping kon sien, maar nie meer die spoed gehad het om daardeur te kom nie. “Ek was nietemin bevoorreg om deel te kon uitgemaak het van so ‘n besonderse Vrystaatspan. Die verhouding van ervaring teenoor jong, waaghalsige outjies in daardie groep was perfek gewees, en die spangees was iets uitsonderlik; ons is vandag nog pelle. “Dit was wonderlike dae...”