Christo Wagenaar
Full names: Christo
Date of birth: 11 Mar 1952
Place of birth: Krugersdorp
School: Monument
Springbok no: 491
Debut test province: Northern Transvaal
Physical: 1.88m, 85kg
Current age: 72

Test summary: Tests: 1 Tries: 0
First Test: 27 Aug 1977 Age:25 Inside Centre against World Invitation at Loftus Versfeld, Pretoria
Last Test: 27 Aug 1977 Age:25 Inside Centre against World Invitation at Loftus Versfeld, Pretoria
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv
27 Aug 197725Inside CentreWorld InvitationWin: 45-24 Loftus Versfeld, PretoriaN-Tvl

Christo Wagenaar : Albert Heenop - Rapport

11 March 2021

Dr Christo Wagenaar, 69 jaar oud vandag gesels met Albert Heenop van Rapport.

Christo Wagenaar, oftewel Dr Wagenaar vir sy pasiente, is 'n Blou Bul-legende wat dateer uit die Noord-Transvaal glorie era van die Sewentigerjare onder wyle Brig Buurman van Zyl. Wagenaar het die Ligblou trui 89 keer oor die kop getrek, insluitende 10 as kaptein, en hy het, van 1975 tot 1981, vir Noord-Transvaal in vyf Curriebeker-finale op buitensenter verteenwoordig, waarvan vier gewen en een gelykop was.

“Dit was ‘n absolute glorie era,” erken Wagenaar. “Ons het oor ‘n uitstekende span beskik; elke individu was ‘n wenner in eie reg. “Buurman was a fenominale afrigter, veral wat mensekennis aanbetref, en hy kon ‘n span bymekaartrek. Dissipline, fiksheid, dit was sy wagwoorde. “Kallie Knoetze (voormalige swaargewig bokser), byvoorbeeld, was gekies om in 1975 met Noord-Transvaal na Europa toe te toer, maar die Dinsdag, voordat ons sou vertrek, kom Kallie laat vir ‘n oefening en daar en dan het Buurman hom uit die toerspan geskop! “Dit was die tipe dissipline wat ons gehad het. “En, natuurlik, Thys Lourens was kaptein, en hy kon daai span lig soos niemand anders nie.

“Ek hou nie daarvan om aan te karring oor die ou dae nie, maar die toewyding, die passie vir die spel was net soveel meer... want daar was nie geld betrokke nie.”

Wagenaar het in twee agtereenvolgende Curriebeker-finale (1977-78) drieë aangeteken, maar dit is die dramatiese 1975-eindstryd teen die Vrystaat, op 'n sopnat Vrystaat-stadion in Bloemfontein, wat vir hom, en sy spanmaats, vir ewig sal bybly. Dit was die einste Wagenaar wat, in die doodsnikke van die wedstryd, die steekskoppie gelos het, ‘n breukdeel van ‘n sekonde voordat Vrystaat-senter Jan Schlebusch hom onderstebo sou loop, wat gelei het tot wyle Pierre Spies Snr se onvergeetlike, vinger-tippie wendrie in die hoekie…

“Daai’s ‘n wedstryd wat beslis uitstaan,” beaam Wagenaar. “Het onlangs met Jan (Schlebusch) oor dit gepraat en hy kan steeds nie glo dat ek daai skoppie uitgekry het nie; hy het my eenvoudig platgeloop! “Ek het die bal nogal op my regtervoet gesit, want ek is eintlik links, en daai bol spring toe net reg vir Pierre Spies om te vat en gaan druk.”

Daar word deesdae ‘n groot ophef gemaak van Varsitybeker-rugby, en hoe gewild dié kompetisie oor die afgelope dekade geraak het. Dis egter te betwyfel of studenterugby en, inderdaad, klubrugby ooit gewilder was as in 1976 toe Wagenaar en sy Tukkies-trawante vir die magtige Maties in die jaarlikse Intervarsity op Loftus Versfeld ore aangesit het, voor 'n skare van nagenoeg 60,000 toeskouers!

“Ja, mens kon eenvoudig nie ‘n kaartjie kry vir die Intervarsities daardie jare nie,” onthou Wagenaar. “Daai Tukkie-Matie kragmetings was omtrent so groot soos ‘n Curriebeker-finaal!”

Wagenaar was ook 'n lid van die Noord-Transvaalspan wat in 1976 met Andy Leslie se All Blacks op Loftus afgereken het, en in 1977 verteenwoordig hy Suid-Afrika in 'n enkele toets teen Willie-John McBride se Wêreldspan, ter inhuldiging van die 'nuwe' Loftus Versfeld, met die Springbokke wat weghol met 'n oorwinning v 45-24.

“Noord-Transvaal se oorwinning van 29-27 oor die All Blacks in 1976 was iets besonders,” meen Wagenaar. “Ons het uitstekend afgeskop en teen rustyd al 19-6 voorgeloop; Pierre Spies het twee drieë gedruk daai middag, en ons ander vleuel, Doors van Rooyen, het ook agter die All Black-doellyn gaan kuier. “My direkte opponent was die ervare Bruce Robertson, wat Nieu-Seeland in 34 toetse verteenwoordig het, en met ander groot name soos Bryan Williams, Ian Kirkpatrick, Peter Whiting, Billy Bush en die kaptein, Andy Leslie, in hulle geledere, was dit basies die All Blacks se toetsspan.

“En om uiteindelik, in 1977, my Springbokkleure te kon verwerf, was uiteraard ‘n droom wat bewaarheid geword het.” Wagenaar was Hoërskool Monument se heel eerste Springbok, na 56 jaar, en daarna het Monnas nog vier Springboksenters opgelewer, te wete Brendan Venter, Jorrie Muller, Jaque Fourie en Jaco Taute.

As een van die mees onderskatte senters in Suid-Afrika, moes Christo Wagenaar waarskynlik heelwat meer die groen en goud oor die kop getrek het. “Ja, wel, die Springbokke het, behalwe vir die enekele feeswedstryd teen die Wêreldspan, glad nie toetsrugby kon speel in 1977, 1978 of 1979 nie, as gevolg van sportboikotte. En, dit het my waarskynlik ‘n paar toetse gekos, want ek was myns insiens toe op my beste.

“My grootste teleurstelling was toe ek in 1981 nie die Springboktoerspan na Nieu-Seeland gehaal het nie. Ek was na die proewe genooi en heelwat mense het gemeen ek staan ‘n kans, maar ek was toe reeds 29 en die keurders het ander planne gehad.”

Op 69-jarige ouderdom is Dr Christo Wagenaar nog in skouperd-kondisie - hoewel hy nie meer die Comrades aandurf nie, speel hy gholf vanaf ‘n 11 voorgee - en bedryf hy steeds met groot sukses sy algemene praktyk van bykans 40 jaar in Queensburgh, Durban. “Nadat Noord-Transvaal die Curriebeker weer in 1981 verower het, het ek my stewels opgehang en die daaropvolgende jaar het ek die praktyk hier begin,” verduidelik hy. “Ek het passie; ek geniet wat ek doen. En, die mense was goed vir my. “Ek wou eers in ortopedie spesialiseer, maar as ek nou terugdink was dit die regte ding wat ek hier gedoen het...