Chris Pope
Full names: Christopher Francis
Date of birth: 30 Sep 1952
Place of birth: Stellenbosch
School: Rondebosch
Springbok no: 461
Debut test province: Western Province
Physical: 1.85m, 90.7kg
Current age: 71

Test summary: Tests: 9 Tries: 1
First Test: 8 Jun 1974 Age:21 Right Wing against Britain at Newlands, Cape Town
Last Test: 18 Sep 1976 Age:23 Right Wing against New Zealand at Ellispark, Johannesburg
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv
08 Jun 197421Right WingBritainLose: 3-12 Newlands, Cape TownWP
22 Jun 197421Right WingBritainLose: 9-28 Loftus Versfeld, PretoriaWP
13 Jul 197421Right WingBritainLose: 9-26 Boet Erasmus, Port ElizabethWP
27 Jul 197421Right WingBritainDraw: 13-13 Ellispark, JohannesburgWP
21 Jun 197522Right WingFranceWin: 38-251 tryFree State Stadium, BloemfonteinWP
28 Jun 197522Right WingFranceWin: 33-18 Loftus Versfeld, PretoriaWP
14 Aug 197623Right WingNew ZealandLose: 9-15 Free State Stadium, BloemfonteinWP
04 Sep 197623Right WingNew ZealandWin: 15-10 Newlands, Cape TownWP
18 Sep 197623Right WingNew ZealandWin: 15-14 Ellispark, JohannesburgWP

Pope, die Main-man! : Albert Heenop

Die vergete vleuel van Springbokrugby word binnekort 70. Hoe anders kan ‘n mens ‘n Bok bestempel wat na slegs nege toetse, op ‘n jeugdige 23 en dit na Suid-Afrika se reeksoorwinning oor die All Blacks in 1976, heeltemal van die toneel verdwyn het. ‘n Hoogtepunt wat WP-ondersteuners van daardie era egter nooit sal vergeet nie, is Chris Pope se asemrowende wendrie vir die streeptruie teen die einste All Blacks.

‘n Kombinasie van beserings en studiedruk het tot sy voortydige uittrede aanleiding gegee, terwyl die feit dat Pope, ‘n mediese dokter, meer as 40 jaar in die VSA woonagtig is verder begedra het tot sy ‘verdwyning’. “Nadat ek in 1978 as ‘n dokter gekwalifiseer het aan die Universiteit van Kaapstad, het ek twee jaar deurgebring by Edendale-hospitaal in Pietermaritzburg, waar ek my internskap voltooi het,” vertel hy.

“Daarna is ek Londen toe vir ‘n jaar, voordat ek in 1982 ‘n navorsingsbeurs van Yale-universiteit in New Haven, Connecticut, ontvang het. Daar het ek in die Kardiologie-department ondersoek ingestel na die gebruik van radionuklied-geêtiketteerde plaatjies om diep-aarse trombose te diagnoseer. “Ek het aangebly by Yale, waar ek uiteindelik as ‘n assistent-professor in die Radiologie-departement aangestel is, tot 1989. Gedurende daardie tyd het ek deel uitgemaak van ‘n navorsingsgroep, onder leiding van prof John Gore, wat die eerste MRI-toestelle in Amerika ontwikkel het.

“Ek het gereeld in Maine, die VSA se mees noordoostelike staat, besoek afgelê, om te ski en Mt Katahdin (5267 voet) uit te klim. Maine spog met ‘n ongerepte kuslyn, wat ‘n mens baie laat dink aan die Kaap, en toe die geleentheid opduik om ‘n Radiologie-doktersgroep by die Maine Mediese-sentrum in Portland op die been te bring het ek dit aangegryp. “En, nou is ek al meer as 30 jaar in Maine.

“’n Mens kan egter die seun uit die Kaap haal, maar jy kan nooit die Kaap uit die laaitie haal nie!” Christopher Francis Pope is op 30 September 1952 in Stellenbosch gebore, “omdat daar nie ‘n hospitaal was in Hermanus, waar ek grootgeword het nie!”

Op laerskool het hy as ‘n negejarige kannetjie begin rugby speel, want “dit is wat enige SA seun, wat kon hardloop, ‘n bal kon vang en oor redelike koördinasie beskik het, gedoen het...”

Sy hoërskoolloopbaan het Pope aan Rondebosch-seunsskool deurgebring, waar die koshuislewe hom geleer het om onafhanklik te word en waar “spanwerk deel van die spyskaart was. “Ek was bevoorreg om wyle prof Tinkie Heyns as my o.14-afrigter en eerste koshuisvader te gehad het,” onthou Pope. “Sy suksesse as ‘n Springbok-atleet en rugbyskeidsregter is welbekend.

“My ander mentor was Tickie de Jager, ‘n ongelooflik talentvolle wiskunde-onderwyser. Hy was my rugby-breier, paalspring- en hekkies-afrigter, en ‘n kenner op talle gebiede. “Hy het my bekendgestel aan fisika, wat my in staat gestel het om die onderliggende kragte in die natuur beter te begryp. Soos meeste van die Rondebosch-onnies, het hy nuuskierigheid by my aangewakker.”

Na matriek, moes Pope nege maande militêre diensplig voltooi - eers in Bethlehem en daarna Pretoria. “Ek het Noord-Transvaal-o.20 verteenwoordig, met Wynand Claassen as kaptein en ander toekomstige Bokke soos Moaner van Heerden en Louis Moolman in ons geledere.”

Pope se ontdekkingsreis het voortgeduur op Ikeys in 1972, waar hy met dr Cecil Moss, Springbok-vleuel teen Nieu-Seeland in 1949, te doen gekry het. “Cecil was soos ‘n pa vir my. Hy het ongelooflike kennis van die spel gehad, maar het bowenal oor gevorderde luistertegnieke beskik wat hom toegang verleen het tot die denke van spelers.”

Twee jaar later maak Pope sy buiging vir Suid-Afrika teen die magtige Britse Leeus van 1974 - op 21-jarige ouderdom. Die Springbokke verloor die eerste toets met slegs nege punte, maar word verinneweer in die tweede en derde toets. Die vierde toets op Ellispark eindig egter gelykop (13-13), maar kon net sowel in die Bokke se guns geswaai het as dit nie was vir Leeu-flank Roger Uttley se omstrede drie nie.

“Arme Max Baise (skeidsregter) was aan die anderkant van die skrum en kon nie sien hoe ek die bal doodgedruk het voor Uttley sy hand op dit kon kry nie,” onthou Pope. “Baise het nie die voordeel van ‘n TV-skeidsregter geniet nie... “Boonop was daardie Leeus uiters intimiderend, en Baise het die drie toegeken.”

Die daaropvolgende seisoen druk Pope sy eerste, en enigste, drie in groen en goud, teen Frankryk in Bloemfontein. Die drie wat egter vir hom uitstaan, is die een vir WP teen die All Blacks in 1976, wat aan die streeptruie ‘n sensasionele oorwinning van 12-11 besorg het.

“Baie, baie jare later, in Tucson, Arizona, op ‘n perdry-uitstappie met my dogters, het ons ‘n Kiwi en sy familie ontmoet. Hy het onmiddelik geweet wie ek was; ek was ‘dié Springbok wat die All Blacks teen WP laat verloor het’! “Hy was agt jaar oud op daardie stadium en het na die wedstryd geluister oor die draadloos!”

Des te meer rede hoekom Chris Pope se ‘verdwyning’ van die rugbytoneel na 1976 so vreemd was. “Ek het die finale fase van my mediese studies betree, en dit was nie maklik om toetsrugby met daardie vlak van akademie te vereenselwig nie. “Boonop het ek teen die einde van 1976 inflammatoriese vaskulitis op my bene en voete ontwikkel, en ‘n biopsie het die moontlikheid van ‘n ernstige bloedkwaal aangedui. As ‘n mediese student, het ek besluit om eerder op te hou speel.”

Pope, wat twee dogters uit twee vorige huwelike onderskeidelik het - Julie het ‘n graad in sowel Kuns as Sosiale Antropologie behaal, en Ali doen ‘n graadkursus in Biologie en Filosofie - het net goeie herinneringe uit sy speeldae, en ook ‘n paar humoristiese herinneringe.

“Die Vrystaatse slot Johan de Bruyn was ‘n sagmoedige reus, met vingers soos piesangs... en ‘n glasoog! “Op toer in Frankryk, wou die Hane ons gereeld met die stewel bykom en in een wedstryd het die skrumskakel vir Johan op sy hande en knieë bespeur en nadergestorm om hom te skop. “Maar toe kyk Johan op en gluur hom aan met net een oog! “Dit was bloot sy glasoog wat uitgeval het, maar was genoeg om die Fransman die hasepad, oftewel ‘Hanepad’, te laat kies!

“By ‘n ander geleentheid het ek deelgeneem aan ‘n protesoptog in Kaapstad teen ‘aanhouding sonder verhoor’, en dit het in die Kaapse koerante beland. By die daaropvolgende WP-oefening het ‘n halfvol bierblikkie my amper getref, met die begeleidende uitroep: ‘Jou blêrrie kommunis!’ “Morné du Plessis (WP kaptein) het eenvoudig nadergestap en rustig vir my gesê: ‘Ignoreer hulle, maar bly weg van die kantlyn af...’’’