Theo Jansen van Rensburg
Full names: Jan Theodorus
Date of birth: 26 Aug 1967
Place of birth: Carletonville
School: Potchefstroom Gimnasium
Springbok no: 558
Debut test province: Lions
Physical: 1.77m, 78kg
Current age: 56

Test summary: Tests: 7 Tries: 0
First Test: 15 Aug 1992 Age:24 Full Back against New Zealand at Ellispark, Johannesburg
Last Test: 23 Jul 1994 Age:26 Full Back against New Zealand at Athletic Park, Wellington
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv
15 Aug 199224Full BackNew ZealandLose: 24-27 Ellispark, JohannesburgLions
22 Aug 199224Full BackAustraliaLose: 3-26 Newlands, Cape TownLions
14 Nov 199225Full BackEnglandLose: 16-33 Twickenham, LondonLions
26 Jun 199325Full BackFranceDraw: 20-205 penaltiesKingspark, DurbanLions
03 Jul 199325Full BackFranceLose: 17-184 penaltiesEllispark, JohannesburgLions
31 Jul 199325Full BackAustraliaWin: 19-122 conversionsSydney Football Stadium (Aussie stadium), SydneyLions
23 Jul 199426Full BackNew ZealandLose: 9-133 penaltiesAthletic Park, WellingtonLions

Theo Jansen van Rensburg : Suparugby

Rugby bly nou maar eenmaal ‘n sport waar mens nie anders kan as om die soet saam met die suur te proe nie. Theo Jansen van Rensburg kan hiervan getuig. Die veelsydige en talentvolle agterspeler het in twee Curriebeker-eindstryde gespeel, vir twee verskillende spanne, en al twee kragmetings het in teleurstelling vir Van Rensburg en kie geëindig.

In 1990, was dit sy vergeefse duikslag wat Natal se Tony Watson deurgelaat het vir die wendrie in daardie seisoen se Curriebeker-finaal op Loftus Versfeld. “Ek sou aanvanklik vleuel gespeel het, maar toe gly Pieter Nel in die tonnel toe ons opdraf en skeur sy Achilles,” onthou Van Rensburg. “Dus moes ek senter toe skuif en dit was ‘n ontwrigting. Ons het Natal ook twee weke vantevore met ‘n groot telling geklop, so daar was moontlik ‘n element van oorgerustheid. “Dit was meer as 30 jaar gelede, so gelukkig is ek nou al oud genoeg om dit agter my te gesit het.”

Twee jaar later, in 1992, was dit die einste Van Rensburg, dié slag in die rooibont-trui van Transvaal, wat misluk met ‘n poging pale toe wat ‘n naelskraapse nederlaag van 13-14 sou afgeweer het in daardie jaar se Curriebeker-eindstryd op Ellispark. “Die tipe goed gebeur; dit is deel van die spel,” gee hy skouerophalend te kenne. “Dit was ‘n groot storie toe, maar op die einde van die dag by dit steeds net rugby.”

Ironies genoeg was dit elke keer Natal wat vir Van Rensburg en sy span gepootjie het. “Kyk ek bly in Durban, en die mense hier rond sal dit nie sommer vergeet nie. So, by elke gholfdag of rugbyontbyt waar wyle Ian McIntosh (voormalige Natal-afrigter) die seremoniemeester was, was ek daaraan herinner!” skerts hy.

Van Rensburg het hom egter nie laat onderkry deur bogenoemde terugslae nie, en hy sou Suid-Afrika nog met onderskeiding verteenwoordig in sewe toetse van 1992 tot 1994 - ‘n uitdagende tydperk vir SA rugby, na bykans ‘n dekade van algehele internasionale sportboikotte teen die Republiek.

Die Springbokke het nietemin so hittete hul terugkeer tot die toetsarena gevier met ‘n oorwinning oor die magtige All Blacks op 15 Augustus 1992, voor ‘n reuse skare van 70,000 toeskouers. Dis ‘n vuurdoop wat Van Rensburg, toe 25, nooit sal vergeet nie... “In die aanloop tot daai toets sou die volkslied nie gesing geword het nie,” vertel Van Rensburg, wat op heelagter uitgedraf het.

“Ek’s nie seker of dit Dr Louis Luyt (destydse SARU President) was wat uiteindelik die besluit geneem het nie, maar toe word ‘Die Stem’ tóg gesing en mens kon sien dat dit, Springbokrugby, die sing van ‘Die Stem’ ensovoorts, iets was waarvoor mense uitgehonger was. “Dit was nogal emosioneel, dit was groot... “En, ja, ons het nie te sleg gevaar; ons het met slegs drie punte verloor (24-27). “Dit was ‘n moeilike tydperk vir SA rugby gewees, om verskeie redes.

“Mens het met provinsiale kampe gesit wat vir baie jare in isolasie moes funksioneer, omdat die ouens nie saam nasionale rugby kon speel nie. Dis nie soos deesdae waar nasionale oefengroepe, van O/20- tot seniorvlak, op ‘n gereelde basis bymekaarkom, nie.

“So, enige ou wat die Springbokke moes afrig op daai stadium het ‘n moeilike taak gehad. En, dis hoekom iemand soos Ian Mac, ‘n Nataller, dalk effens ongelukkig was om in 1994 die trekpas te gekry het as Bok-afrigter.

“Almal het nie altyd ingekoop in wat hy wou doen nie, en daar was nie genoeg tyd vir almal om sy idees te verstaan nie. Die kontraste tussen die verskillende unies was dalk te groot gewees...”

“Dinge is deesdae heelwat meer eenvormig; die beginsels en speelpatrone van meeste spanne is basies dieselfde. “Dit het egter ‘n nuwe nadeel laat kop uitsteek. Mense kla dat die spel gans te voorspelbaar geword het, en ek stem nogal saam.

“Die groot verskil is dat verdediginspatrone geweldig verbeter het, asook die kodisionering; vandag se spelers is soveel groter as in ons dae, veral wat gewig betref.

“Die hartseer daarvan is dat daar nie eintlik meer plek is vir jou kleiner outjie wat oor ander vaardighede beskik nie...“Dit is ‘n groot probleem op skoolvlak, veral in jou sogenaamde groot rugbyskole; dit raak al hoe moeiliker om ‘n klein laaitie te akkomodeer. En dit doen afbreek aan die hele skolerugby ervaring...”

Die hoogtepunt van Theo van Rensburg se loopbaan in groen en goud, was die Springbokke se sprankelende sege van 19-12 oor die Wallabies in Sydney in 1993. Dit was ongetwyfeld Suid-Afrika se indrukwekkendste vertoning op daardie stadium, en toe reeds ‘n waarskuwing aan die res van die rugbywêreld op die vooraand van die 1995 Wêreldbekertoernooi.

Ongelukkig sou Van Rensburg nie deel uitmaak van Kitch Christie se triomfantlike Wêreldbeker-groep in 1995 nie, en die tweede toets teen Nieu-Seeland in Wellington in 1994, waarin hy beseer geraak het en in die laaste minuut deur André Joubert vervang moes word, was sy laaste in groen en goud.

“Ek het as gevolg van die besering nie Skotland en Wallis toe getoer aan die einde van 1994 nie, en Kitch het my meegedeel dat die ouens met wie hy op daai toer gegaan het, en dit was ‘n hoogs suksesvolle toer, voorkeur sou kry wat seleksie betref in die aanloop tot die Wêreldbeker,” onthou hy.

Van Rensburg het, nadat hy sy loopbaan as speler by Suidwestelike-Distrikte afgesluit het, in 2002 vir Rudolf Straeuli in Durban bygestaan as hulpafrigter van die Haaie en later, in 2011, ook die agterlyn van Westville Boys High se Eerstespan met groot sukses gebrei.

Dit was op Potchefstroom Gimnasium dat sy uitsonderlike sporttalent ten volle ontwikkel het in die middel Tagtigerjare. “Ek het my sport geniet op Gimmies; ek het ook baie atletiek gedoen daar,” vertel hy. “Dit was goeie jare.”

Daarna is hy na die Universiteit van Pretoria toe, waar hy, met sy dartellopies en drieë, een van die helde was van Tukkies se span wat die 1990 Nasionale Klubkampioenskap in Durban verower het. “James Stoffberg het ons afgerig en Tukkies het ouens gehad wat kon speel, wat kon hardloop met die bal,” sê Van Rensburg. Benewens ouens wat kon ‘speel’, het Tukkies ook sy kwota ‘karakters’ gehad. “Op universiteit was daar beslis ‘n paar interessante ouens gewees,” glimlag hy. “Ouens soos Robert du Preez, Tjaart Marais, Giepie Nel, Heinrich Rodgers, wyle André Skinner en, natuurlik, Rudolf (Straeuli)….