Rudolph Straeuli
Full names: Rudolph August Wilkens
Date of birth: 20 Aug 1963
Place of birth: Pretoria
School: Menlopark, Pretoria
Springbok no: 616
Debut test province: Lions
Physical: 1.9m, 109.8kg
Current age: 58

Test summary: Tests: 10 Tries: 4
First Test: 9 Jul 1994 Age:30 Flank against New Zealand at Carisbrook, Dunedin
Last Test: 18 Nov 1995 Age:32 Reserve against England at Twickenham, London
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv
09 Jul 199430FlankNew ZealandLose: 14-221 tryCarisbrook, DunedinLions
08 Oct 199431FlankArgentinaWin: 42-22 Boet Erasmus, Port ElizabethLions
15 Oct 199431FlankArgentinaWin: 46-261 tryEllispark, JohannesburgLions
19 Nov 199431EighthmanScotlandWin: 34-101 tryMurrayfield, EdinburghLions
26 Nov 199431EighthmanWalesWin: 20-121 tryMillenium Stadium (Cardiff Arms Park), CardiffLions
13 Apr 199531EighthmanSamoaWin: 60-8 Ellispark, JohannesburgLions
25 May 199531EighthmanAustraliaWin: 27-18 Newlands, Cape TownLions
10 Jun 199531EighthmanSamoaWin: 42-14 Ellispark, JohannesburgLions
24 Jun 199531ReserveNew ZealandWin: 15-12 Ellispark, JohannesburgLions
18 Nov 199532ReserveEnglandWin: 24-14 Twickenham, LondonLions

Rudolf Straeuli : Suparugby

20 Augustus 2020

Rudolf Straeuli onthou nog die opgewondenheid toe hy 51 jaar gelede as sesjarige kannetjie as ball boy uitgedraf het op die groen gras van Loftus Versfeld…hoe hy die Saterdae van sy jeug daar verwyl en ’n gróót liefde vir rugby ontdek het…die vreugde van ’n eerste Curriebeker-triomf, in 1998 saam met die Ligbloues.

Sy Italiaanse ekspedisie; die oproep van Kitch Christie wat sy lewe verander het; hoe die Springboktrui die eerste keer om sy skouers gevoel het . . . en natuurlik die vreugde van 1995, toe hy sy hande om die Webb Ellis-trofee kon vou.

Vir die meeste ouens is rugby ’n passie wat hulle vir ’n paar jaar op skoolvelde uitleef – en dan van hul rusbanke af volg – dalk met ’n “wat as” in die hart wat hulle Saterdae om die braaivleisvure deel.

Rudolf Straeuli, wie vandag sy 57-jarige verjaardag vier, vra min “wat as”. Sy rugby-ekspedisie is nou al in sy vyfde dekade – en dis, soos die Engelsman sê, the gift that keeps on giving. Dis ’n Woensdagmiddag op Ellispark-paviljoen, drie dae ná die Curriebeker-eindstryd. Doer onder op die veld lê die rooi konfetti nog. En in die maag van die stadion staan die goue beker self – ná vier jaar van moeilike tye terug in die Goudstad. Beloning vir ’n span wat gewaag én gewen het.

“Ja kyk, ek het ’n lang lys Curriebekers agter my – 1989 was my eerste een, 1990, 1993 en 1994 het ek dit saam met Transvaal gewen, in 1996 se eindstryd teen Natal vir die laaste keer daarvoor gespeel.

“In 2000 en 2001 was ek die afrigter toe die Haaie in die eindstryd was, kommersiële bestuurder toe hulle dit in 2010 gewen het.

“So, ja, dis ’n láng en spesiale geskiedenis, maar nog nooit was ek betrokke by ’n span wat onoorwonne gebly het nie. Dis wérklik spesiaal,” sê Straeuli, die laaste paar jaar die uitvoerende hoof van die Johannesburgse unie.

Straeuli se rugbypad het wel op Loftus begin, maar dis op Ellispark – of Emirates Airline Park, soos dit deesdae bekend staan – waar hy sy grootste oomblikke gehad het.

“Daar,” sê hy met ’n uitgestrekte hand, “by daai stukkie konfetti het ons die skrum gehad van waar Joel (Stransky) gedrop het in die 1995-eindstryd. En dáár was die verhoog waarop Madiba die trofee vir Francois (Pienaar) gegee het.

“Ek was bevoorreg,” sê hy met ’n waterigheid in sy oë. “Ek was op die regte plek op die regte tyd. Ek was al 30 toe ek ’n Springbok geword het, maar ek was daar toe die wêreld gesien het hoe rugby en sport mense se lewens kan verander. Dit bly een van my grootste dryfvere.”

Straeuli het in November 2013 Johannesburg toe gekom, ná 14 jaar in Durban, om te kom hand bysit by ’n toe beleërde unie.

Die Leeus het nie daardie jaar Superrugby gespeel nie en die toekoms het maar donker gelyk.

“Ons moes gaan sit en besluit hoe draai ons die gety,” sê hy. “Ons moes mense terugkry by Ellispark, so ons het die omgewing opgeruim en openbare vervoer in plek gekry. Ons het ’n bewustelike besluit geneem om mense hier ’n onvergeetlike rugby-ervaring te gee – en nou het ons die punt bereik waar hulle aanhou terugkom.”

Dis een van die redes, sê hy, waarom die Leeus sedertdien die kreatiefste span in die land geword het.

“Ja, die aanvallende patroon was ook maar deels ’n bemarkingsbesluit. Ons het gesê as ons nie ’n ou se eerste span is nie, wil ons minstens sy tweede span wees, en dit ís ons nou. Ons ding natuurlik mee teen die pond en die euro, so ons moes vir die ouens hier ’n huis skep om die uittog te probeer beperk.

“As jy so kyk na die familieatmosfeer hier, lyk dit asof ons dit reggekry het.”

Die Leeus het baie doelwitte vir die toekoms, sê Straeuli, maar hulle vat dit tree vir tree.

“Veld van drome,” is hoe hy na Ellispark verwys. Die plek waar hy die eerste keer gesien het die grootte van jou verbeelding is al wat jou kan inperk.

Hy was daardie middag in Junie 1995 op die groen gras toe kleur weggeval en ’n verdeelde nasie saam as Suid-Afrikaners gejubel het. Hy was op die “One Team, One Country”-bus wat in die Johannesburgse middestad deur ’n mensesee begroet is.

“Ons was in dit, toe sport ’n nasie gebou het,” sê hy. “Suid-Afrika het baie uitdagings, maar ek beskou rugby as ’n voertuig waarmee jy mense kan bereik en help. Ons moet uitreik en vra: Watter verskil kan ons in mense se lewens maak?

“Dis waarom ons ’n sportfasiliteit in Soweto gaan bou het en hoekom ons spelers gereeld afrigtingsklinieke gaan doen. Daar is te min fasiliteite en vir die meeste van ons kinders te min geleenthede. Ons wil dit verander en rugby oopstel vir álmal.”

Dis ’n voorreg om sy daaglikse brood by sy Veld van Drome te verdien. En ’n ewe groot voorreg om in die aand huis toe te gaan na sy mense.

“Ek en René (sy vrou) ken mekaar vandat ek 25 is en sy’t die hele pad saamgestap – deur Italië, in Engeland, Durban, hier . . . Ruan is deel van die Leeus se oefengroep en Rieze is by Kovsies. Ek het twee gesonde kinders, albei my ouers leef nog en is aktief en ek het goeie vriende wat deur alles by my bly staan het. Ek is bevoorreg. Ek is op ’n goeie pad.”