Boy de Villiers
Full names: Hendrik Alexander
Date of birth: 1 May 1884
Place of birth: Paarl
Schools: Paarl Gimnasium Paul Roos Gymnasium
Springbok no: 95
Debut test province: Western Province
Physical: 1.75m, 76.2kg
Date of death: 9 Nov 1944 (Age 60)

Test summary: Tests: 3 Tries: 0
First Test: 17 Nov 1906 Age:22 Inside Centre against Scotland at Hampden Park, Glasgow
Last Test: 8 Dec 1906 Age:22 Inside Centre against England at Crystal Palace, London
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv
17 Nov 190622Inside CentreScotlandLose: 0-6 Hampden Park, GlasgowWP
01 Dec 190622Inside CentreWalesWin: 11-0 St. Helens, SwanseaWP
08 Dec 190622Inside CentreEnglandDraw: 3-3 Crystal Palace, LondonWP

Boy Bekkies

Toe ons onlangs met droefheid moes verneem dat die alom beminde "Oom Boy" de Villiers, vroeër bekend as "Boy Bekkies", oorlede is, het ons verskeie gewese medespelers van hierdie Springbok-rugbyspeler gevra om die een en ander oor hom mee te deel. Wat hy as breier vir die Universiteit van Kaapstad se spanne in sy los uurtjies reggekry het, is oorbekend; ons het dus meer aandag bestee aan sy vrolike jeugdae.

Met die oorlye van H.A. de Villiers, beter bekend as "Boy Bekkies", het daar nog een van Suid Afrika se beroemde rugby-spelers van die toneel verdwyn. As lid ban die vermaarde Springbok-agterlyn, bestaande uit hom met Japie Krige, A.C. Stegmann en J.A. Loubser langs hom, wat in 1906 onder kapteinskap van Paul Roos die eerste besoek aan Engeland gebring het, sal "Boy" se naam voorleef solank daar rugby in Suid Afrika gespeel word.

Die meeste lede van daardie beroemde Springbokspan is vandag nog in die lewe; maar reeds is een van die Morkels van Transvaal, D. Maré, W.C. Marheze, A.F. Burdett en Stevie Joubert, en nou eindelik Boy de Villiers, nie meer nie.

Boy is in die Paarl gebore, en sy eerste opleiding het hy aan die Paarlse Gimnasium ontvang. Vroeg in sy jeug het hy reeds getoon waartoe hy op die rugbyveld in staat is. In 1897 het hy vir die Paarlse Gimnasium gespeel en die ddaropvolgende jare vir Stellenbosch as senter, met Japie Krige en Bob Loubser ook in die span.

In 1903 was Japie reeds 'n skitterende senter. Dit was grootliks aan sy toedoen te danke dat Boy later die Springbokkleure gedra het.

In die loop van daardie jaar het Stellenbosch teen die gedugte span van Villagers, onder aanvoering van "Fairy" Heatlie, beskou as miskien die grootste voorspeler wat Suid Afrika nog gehad het, te staan gekom. Dit was 'n beslissende bekerwedstryd wat op besonder dramatiese wyse geëindig het. Kort voor die einde van die wedstryd het Lochner, die een vleuel van Stellenbosch, 'n besering opgedoen en moes hy die veld verlaat. Jan Sproot Immelman het sy plek ingeneem. Die spel was tot dusver baie gelykop en nie een van die spanne, hoe hulle ook al gepoog het, kon die beslissende punte aanteken nie. Dit het gelyk asof die spel gelykop gaan eindig. Toe Tobie Lochner egter seerkry, het Villagers moed geskep, aangesien die Maties nou net oor veertien man beskik het; en Lochner was een van hul staatmakers. Die onverwagte het egter gebeur.

Immelman het nouliks Lochner se plek ingeneem of hy word in besit van die bal gestel. Hy het 'n opening gekry, en voordat iemand juis kon besef wat gebeur het, het hy blitsvinnig deur die gaping geskiet om oor die lyn te val. Villagers was eenvoudig verbysterd. Immelman wat egter nie alleen die held van die dag nie; want dit was Boy se vernuftige taktiek wat regstreeks daarvoor verantwoordelik was dat Immelman met die bal oor die lyn kon val.

Na die wedstrryd het Boy ewe ernstig gesê: "Ek is baie jammer dat ou Lochie moes seerkry, maar ek voel nie spyt nie."

In 1904 was Boy een van die gevaarlikste senters in Westelike Provinsie en in daardie jaar het hy Westelike Provinsie dan ook in 'n Curriebeker wedstryd wat in Oos-Londen afgespeel is, verteenwoordig.

In die loop van die rugbyseisoene wat gevolg het, het Boy steeds met beter en beter spel voor die dag gekom, wat hom in 1906 'n welverdiende plek in die Springbokspan besorg het as lid van die beroemde kwartet wat in Engeland as die beste ter wêreld beskou is.

Hoe snaaks dit ook al vir sommige mense wat Boy in later jare geken het, moet klink, kan dit nie aangevoer word dat hy as senter die gelyke van Japie Krige, J. Ashley en R.T Skrimshire was nie. Japie Krige was byvoorbeeld 'n genie, in sy fleur miskien die beste senter te wêreld.

Dit kan nie van Boy gesê word nie. Sy krag het in sy vennootskap met Japie gelê. Waar Boy se individuele pogings as senter groot tekortkomings gehad het, het hy egter vergoed as 'n uitstekende taktikus. Ten opsigte hiervan het hy Japie ver oortref. Die uitslag van meer as een groot wedstryd waarin Boy opgetree het, moet dan ook regstreeks aan sy geniale vindingrykheid toegeskryf word. Wanneer alles misluk het om die ander span te uitoorlê, het hy gewoonlik met iets voor die dag gekom wat die deurslag sou gee.

Die kombinasie Krige-De Villiers het 'n soliede geheel gevorm wat miskien in die geskiedenis van Suid Afrikaanse rugby geen weerga het nie. Waar een 'n tekortkoming gehad het, is dit aangevul deur die ander. As voorbeeld kan genoem word dat Japie as aanvallende senter haas onoortreflik was. Dieselfde geld nie vir Boy nie. Sy krag het in die verdediging gelê en hy het Japie in hierdie opsig in die skadu gestel.

Vir Boy was rugby geen spel sonder talle plannetjies, skemas, oorwegings en beraadslagings nie. Soos voor 'n groot krygsveldtog, moes alles tot in die fynste besonderhede uitgewerk word. "As 'n mens iets wil doen, moet jy weet wat jy doen en hoe om dit te doen; en dit geld veral vir rugby," het Boy by een geleentheid gesê.

By een geleentheid, na afloop van 'n wedstryd tussen Villagers en Stellenbosch, waarin laasgenoemde span kort voor die einde daarin geslaag het om die beslissende drie aan te teken, het Boy baie spraaksaam geword en in die fynste besonderhede vertel hoe daar te werk gegaan is om die drie aan te teken. Hy het gesê dat indien hylle nie deur die verdediging van Villagers kon breek nie, daar tog 'n plan gemaak moes word. Op die kritieke oomblic tydens die wedstryd, het Boy gesê, het hy hom na Japie gewend en aan hom verduidelik wat om te doen wanneer hy (Japie) in besit van die bal sou kom. Boy het nog verduidelik wat hy aan Japie gesê het om te doen wanneer die bal na hom uitvlieg, toe Joe Barry, die beroemde Suid Afrikaanse en Villagers driekwart, wat hom gestaan en aanluister het, hom ru van die ander kant van die die vertrek af in die rede val: "Ag, Boy, jy het Japie niks vertel nie. Jy het nog daar op die veld gestaan en kekkel en aan Japie verduidelik, toe die drie reeds aangeteken is en die eindfluitjie geblaas het."

Adv. A.J Pienaar, voorsitter van die Suid Afrikaanse Rugbyraad, vertel van 'n voorvalletjie wat lig op die karakter van Boy de Villiers werp. Tydens 'n botsing tussen Villagers en Stellenbosch in 1906, het Boy in besit van die bal geraak, en nadat hy 'n ent die veld af gehardloop het, het hy skielik gaan staan en 'n skepskop na die pale gestuur. Vir een oomblik het dit gelyk asof die skop misluk het. Dit het skuins na die pale getrek en rakelings daaroor gegaan. Dit was blote geluk dat die bal aan die oorkant van die swarspaal afgeval het en nie aan die duskant nie. Sy spanmaats het Boy na die wedstryd geterg oor die geluk van die skop. "Enigeen kan so 'n skop skop, wnat dit was mos nie 'n skop nie," het een van hulle aan hom gesê. "Dis 'n kuns om so te kan skop," was Boy se vinnige antwoord. "Probeer jy dit 'n bietjies, en as jy dit nie per ongeluk regkry nie, beloof ek jou dat ek nooit weer sal probeer om 'n skepskop deur die pale te stuur nie. Maar wat maak dt per slot van rekening saak? Ek het vier punte aangeteken. Vir so 'n skop behoort daar vyf punte toegeken te word."

Een van die moeilikste dae wat Boy seker beleef het was onmiddellik na die vertrek van die boot "Gascon" op 27 Augustus 1906 met die Springbokspan aan boord. Die reis was nog maar 'n paar uur oud toe Boy al stiller en stiller word. Ou Vader Neptunus het hom ten volle daarin verlustig om veral vir Boy en Billy Millar tot die uiterste toe te kasty.

Anders as die ou boer wat die kaptein van 'n boot waarop hy was, versoek het om die boot net 'n paar minute lank te laat stilstaan in ruil vir sy plaas, het Boy die foltering met gemoedelike oorgawe aan die onvermydelike verduur. Toe die saak sy klimaks bereik, het Boy traag aan 'n vriend langs hom gesê: "Hierna sal ek nooit weer kan rugby speel nie."

Nadat die Springbokke van 'n geslaagde reis in Groot Brittanje teruggekeer het, het Boy op Darling gaan woon, en 'n tydlank het hy nie aktief aan rugby deelgeneem nie. Eers in 1910 hy hy by Villagers aangesluit. Hy was 'n groot aanwins vir dié klub, want hulle het daardie jaar 'n paar van hulle beste spelers verloor. Sowat 'n jaar later het Boy ook sy aandag aan krieket begin wy en vir die tweede span van die Westelike Provinsie-klub gespeel.

Die laaste jare van sy lewe het Boy sy deeglike rugbykennis en -inisiatief toegepas as breier aan die Universiteit van Kaapstad. As afrigter het hy maar min gelykes in Suid Afrika gehad, en die onuitputlike geesdrif wat hy aan die dag gelê het vir hierdie sportsoort, het 'n besielende invloed op elke speler of span wat hy afgerig het, gehad.

Soos reeds gesê, het Boy vanaf sy vroegste jongelingsjare belang gestel in rugby. "Fairy" Heatlie vertel dat hy en Boy sowat 'n jaar gelede op 'n dag sit en gesels het oor vervloë rugbydae en hoe hulle rugby begin speel het. "In die systraatjies van Paarl het ek met 'n beesblaas begin speel wanneer daar geslag word." het Boy gesê. "Het jy ooit 'n varkblaas probeer?" wou Fairy van Boy weet. "Ek het," was die antwoord. "Maar 'n varkblaas is glad nie so doeltreffend as 'n beesblaas nie. Dit het te spits aan die een kant uitgeloop."

Daardie vinnige stem van "Oom Boy" wat soos die geknetter van 'n masjiengeweer geklink het wanneer hy praat en getuig het van sy genialiteit, is nou vir goed stil, maar hy sal voortleef in die herinnering van diegene wat hom geken het as een van die grootste rugbykenners en 'n speler wat die Springbok-trui waardig was. En dit is seker die grootste lof wat 'n voetbalspeler toegeswaai kan word.