Faan Conradie
Full names: Stephanus Christoffel
Date of birth: 27 Jun 1942
Place of birth: Parow
School: Outeniqua
Springbok no: 404
Debut test province: Western Province
Date of death: 19 Oct 1992 (Age 50)

Test summary:
First Test:
Last Test:
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv

'n Krans vir Faan, die Bok wat nooit was nie : Anton de Waal

24 Oktober 1992

SO drie weke weke terug het ons hom vir die Saterdagmiddag se braai op Heroldsbaai verwag. Wou hom terugvat na sy rugbydae die hoogtepunte en die laagtepunte, die glorie en die vernedering. Sy Golfie het nooit opgedaag nie. Hy het die oggend skielik siek geword. Vandeesweek het die nuus gekom: Faan Conradie, die Springbok-losskakel wat nooit was nie, is in 'n verpleeginrigting op George oorlede. Op 27 Junie vanjaar vyftig geword. En skielik het die gedagtes teruggeloop na April 1965. Die jaar toe 'n jeugdige Faan inderhaas van Stellenbosch af Skotland toe ontbied is. Die Bokke op daardie rampspoedige kort toer was rug teen die muur. Slae gekry teen Ierland. Saterdag, 17 April, was voor die deur. En 'n omgesukkelde Skotse toetsspan was lus vir biltong maak op Murrayfield. Keith Oxlee, die span se losskakel nommer een, was beseer. Nommer twee, Jannie Barnard, had dyspierprobleme weens te lang knoppies onder sy stewels. Conradie moes pak en vlieg. Sy jeugdroom het waar geword. Hy was oplaas Springbok. Volgens die koerantknipsels van destyds was die mediese advies aan die toerbestuur die dag voor die Murrayfield-toets: Moenie waag met Barnard nie. Die bestuur het anders besluit en Faan was sy groot kans kwyt. Die res is geskiedenis: die Springbokke het verloor en Barnard het swak gespeel. En Conradie is nooit weer vir die Springbokke gekies nie. Of sake anders kon verloop het as Faan wel sy kans gekry het, sal niemand ooit weet nie. Feit bly egter dat Faan se rugbyloopbaan dalk 'n ander koers kon gekry het as hy daardie dag gespeel het. . . Hy het saam met die span teruggekom sonder dat hy Groen en Goud in 'n wedstryd aan sy lyf gevoel het. Suid-Afrika het sy tweede Bobby Johns gekry. Gekies, maar nooit gespeel nie. Sy Matie- en WP-spanmaats van die sestigerjare én sy teenstanders sal hom onthou as 'n ware Voetballer met 'n hoofletter. Vinnige reflekse, haastige hande. Balvaardig. 'n Pragtige aanvoeling vir die spel. Iemand wat geglo het rugby is 'n spel wat moet vloei. Stil, ernstig. Ontvanklik vir lof, gevoelig vir kritiek. Net een lyntjie DIE inskrywings oor Faan in ons rugbyliteratuur is min. In Springboksage is dit beperk tot net een lyntjie: Conradie, S. G. 1965, Ierland en Skotland (geen toetse). En onder die hofies wedstryde, drieë, doelskoppe, skepdoele en punte net strepie, strepie, strepie, strepie, strepie. In Teddy Shnaps se boek 'n Statistiese geskiedenis van Springbokrugby kry jy iets meer. 'n Ovaalvormige foto'tjie, plus 'n inlas op 1965 se spanfoto. En die volgende: gebore op 27 Junie 1942, gedoop as Stephanus Christoffel, wat sy WP-kleure as lid van die Matie- klub verdien het. Suid-Afrika se 404de Springbok. Geen toetse. Plaasvervanger-losskakel op die 1965-toer. Die Springbok wat nooit sy baadjie gedra het en wou dra nie. Hanteer versigtig DALK is daar tog iets vir ons rugby- grootbase uit Faan se geskiedenis te haal wat nogal verband hou met van die ongelukkighede op die huidige Springbok-toer deur Frankryk en Engeland. Onder meer dat jy nie 'n toetsspan met verskeie omstrede verskuiwings aan die media bekend maak sonder dat jy vooraf jou redes en wat nog met die spelers uitklaar nie. Elk van die jong manne op toer is kosbare breekgoed. Hulle dra 'n etiket waarop staan: Hanteer versigtig. Speel dus versigtig met ons jong talent, want julle speel met hulle en met ons drome. Juig en treur ONS almal sal vanmiddag juig wanneer die Springbokke en die Hane mekaar in Parys vat. Maar vanoggend op George neem ons eers afskeid van die Springbok wat nooit was nie. Wat die laaste jare alle belangstelling in rugby verloor en hom besig gehou het met Rudolf Steiner se wyshede. Hy het gereeld gesê: "Moenie oor my treur nie. Steek net so nou en dan 'n kersie brand.'' Dié De Waal sal maak soos hy gevra het. Maar nie sonder die treur nie.