Helgard Muller
Full names: Helgard Lourens
Date of birth: 1 Jun 1963
Place of birth: Bloemfontein
School: Grey College
Springbok no: 551
Debut test province: Orange Free State
Physical: 1.82m, 78kg
Current age: 60

Test summary: Tests: 2 Tries: 0
First Test: 31 May 1986 Age:22 Reserve against NZ Cavaliers at Ellispark, Johannesburg
Last Test: 26 Aug 1989 Age:26 Reserve against World Invitation at Newlands, Cape Town
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv
31 May 198622ReserveNZ CavaliersWin: 24-10 Ellispark, JohannesburgOFS
26 Aug 198926ReserveWorld InvitationWin: 20-19 Newlands, Cape TownOFS

Helgard Muller : Albert Heenop

’n Aksiefoto van Helgard Müller pryk op die voorblad van die boek, VRYSTAAT! 100 Jaar van Hardlooprugby, en met goeie rede, 142 goeie redes. Müller het, van 1983 tot 1998, vir die destydse Blikore in ’n rekord 142 CB-wedstryde verteenwoordig. Dit is nie waar die legendariese blondekop-senter se Vrystaat-statistieke ophou nie. Hy het ’n totaal van 245 eersterangse wedstryde gespeel, 63 drieë gedruk en die span vir ’n rekord 89 keer aangevoer.

Die Vrystaatbloed vloei dik deur die are van Helgard Lourens Müller, wat 60 jaar gelede in Bloemfontein gebore is. “Ek het begin skoolgaan aan Laerskool President Brand, maar was taamlik stout,” erken hy. “Ek was ’n regte straatkat. Thabo Thomas het ongeveer ’n blok van ons af gebly, en die twee van ons het heelwat moeilikheid aangejaag. “Toe stuur Pa my na die Rooidak-skool op Boshoff vir ’n jaar of so.”

Terug in Bloemfontein, het Müller se verbintenis met die beroemde Grey Kollege begin, maar die bekoring met rugby het voor dit reeds posgevat.

“Pa, Loutjie, was vir meer as 50 jaar lid van Collegians,” onthou Müller. “Ek hét al gewonder of ek en Pieter (broer) nie daar gebore is nie! “Ek het van kleins af gaan kyk, baljoggie gespeel en op ’n stadium balle teruggeskop vir legendes soos De Wet Ras en Gysie Pienaar.

“In 1979, sou ek soggens vir Grey se Onder 16’s uitdraf en, sodra die eindfluitjie geblaas het, Collegians toe gehaas het om te sien of daar plek vir my was in die ‘Fanagalo’s’. Die ou manne het my gewoonlik op vleuel of heelagter ingespan, sodat die ballies my nie kon seermaak nie.”

Vanuit Grey het Müller vir Vrystaat-skole aangevoer en twee jaar agtereenvolgens die SA Skolespan gehaal (1981-82). “Wat vir my uitgestaan het van Grey was die kultuur, die samehorigheid, die tradisies, die Grey Way… “Grey het vir ’n mens help vorentoe vat, omdat jy besef het dat alles in die lewe harde werk verg en dat jy altyd nederig moes bly.”

Na skool, het Müller onderwys gestudeer aan die Universiteit van die Vrystaat, en dit was tydens ’n Varsity-toernooi in Port Elizabeth, in 1983, dat hy noodgedwonge ontbied was om vir Vrystaat te speel.

“Die soveelste senter het seergekry, met die gevolg dat ek omtrent nr. 13 was toe ek teen Oostelike Provinsie, en my held, Danie Gerber, moes uitdraf vir my vuurdoop,” vertel hy. “Ek was gelukkig omring deur uiters bekwame spanmaats soos Gysie, De Wet en Barry Wolmarans, en kon my debuut vier met ’n oorwinning.”

’n Jaar later was daar allermins rede vir feesvieringe, toe ’n sterbelaaide Vrystaatspan lelik kleigetrap het in ’n CB-halfeindstryd teen Natal, wat toe nog in die B-Afdeling was. “Dit was chaoties,” erken Müller, wat ‘gelukkig’ op die reserwebank was daardie noodlottige middag op Kingspark. “In die vorige kragmeting, met Noord-Transvaal, wat ons oortuigend gewen het, het ek en Giepie Nel in mekaar vasgehardloop, so ek was half beseer. “Wat ’n aaklige semi-finaal. “Ons het die Woensdag reeds Durban toe gevlieg, en in die Beverley Hills-hotel, op Umhlanga Rocks se strandfront, gebly. Dit was ’n fout. “Die manne van die Vrystaat was nie gewoond aan al die garnale, vis en vyfster-lewe nie. “Op die ou einde was Natal eenvoudig beter.”

Die 1986-seisoen sou ’n grote wees vir Müller, en het afgeskop met Shimlas wat, ook op Kingspark, daarin kon slaag om die Klubkampioenskap oor die Paasnaweek te wen. “Ons het in 1985 die finaal met 6-28 verloor teen Despatch, maar was heelwat beter voorbereid in 1986. “Ons het toevallig weer teen Despatch te staan gekom in die eerste ronde, en dit was weer ’n taamlike riller. Gysie se knie is binne die eerste 10 minute afgeduik, en ek was van die veld gejaag, maar ons kon darem met 20-6 wen. “Daarna het ons met 18-14 deurgeskuur in die halfeindstryd, danksy Johan Gouws se drie in die hoekie, en ’n taamlike vreemde finaal, met Naas (Botha) wat beseer was en die bal teen Wessel Lightfoot se kop vasgeskop het, gewen met 14-6.”

’n Maand later, het die Kavalierspan van Nieu-Seeland in Suid-Afrika aangeland, en die All Black-belaaide rebelle het vroeg op hul toer oortuigend met Vrystaat afgereken (31-9). Müller het nietemin vir opwinding gesorg toe hy agsteman Murray Mexted se wind op die hoekvlag uitgeduik het om ’n sekere drie te verhoed. “Die mense reken dat ek vir Mexted soos ’n kat bespring en hy soos ’n os neergeslaan het,” lag hy.

Nog ’n maand later het Müller sy nie-amptelike toetsdebuut gemaak, toe hy laat in die vierde en laaste kragmeting tussen die Springbokke en Kavaliers, op Ellispark, vir Jaco Reinach op vleuel vervang het. Gerugte het destyds die ronde gedoen Reinach, wat ook op Grey skoolgegaan het, ’n besering geveins het sodat Müller speelkans in Groen-en-goud kon kry. “Volgens Jaco, het hy vreeslike krampe begin ontwikkel, en, wel, ek volstaan ook daarby,” sê Müller.

Müller het boonop, met sy eerste aanraking van die bal, ’n tikskoppie oor die einste Mexted se kop gegee, vir skrumskakel Garth Wright om die bal op te pik en die finale spyker in die Kavaliers se kis te moker. Die Springbokke het met 24-10 geseëvier, om die nie-amtelike reeks met 3-1 in te palm.

In 1989, het Müller weer opgekom as Bokreserwe teen ’n Wêreld-vyftiental ter viering van SA Rugby se eeufees, en in 1994 het hy as reserwe saam met Kitch Christie se Bokspan getoer deur Wallis en Skotland.

Hy het in die negentigs vir Vrystaat twee keer aangevoer in CB-finale. In 1994 moes hulle met 33-56 die aftog blaas teen die magtige Transvaalspan van Francois Pienaar, maar drie jaar later, in 1997, was die Cheetahs bitter ongelukkig om op omstrede wyse met 12-14 teen WP te verloor op Nuweland. Met feitlik geen speeltyd oor nie, het Müller-hulle ’n man oor bewerk vir vleuel Jan-Harm van Wyk om in die oorkantste hoekie oor te draf, maar skeidsregter André Watson het aangedui dat Müller se aangee vorentoe was.

“Volgens Newton se bewegingswette kon daai aangee onmoontlik vorentoe gewees het,” skerts Müller. “Daar was toe reeds wedstrydknoeiery, en dis hoekom WP nou bankrot is; hulle het onlangs eers die laaste paaiement betaal vir daardie uitslag!

“Om eerlik te wees, ek het nooit weer na daardie insident gekyk nie. Ek aaanvaar dat André en Tappe Henning (lynregter) die regte beslissing gemaak het. “Dis egter ’n slegte herinnering wat ’n mens nooit sal vergeet nie. “Vriende van my wat in die Krugerwildtuin uitgekamp het, het, toe hulle hoor Jan-Harm druk, hul draadloos summier afgeskakel en verwoed begin kuier. Die volgende oggend, toe hulle met ’n erge babalas wakker word, moes hulle tot hul misnoë uitvind dat Vrystaat verloor het…”

Wat individuele teenstanders betref, sukkel Müller om die gedugste uit te sonder. “Senters wil almal wys dat hulle baas is van die middeveld, so ’n mens moes elke wedstryd op jou stukke wees, anders het jy tweede gekom. “Gelukkig was my broer (Pieter Müller) sag, so ek was nooit bang vir hom nie! (Lag)

“Pieter was ses jaar jonger as ek, so ons het eers na skool ’n paar keer vir Vrystaat saamgespeel, voordat hy Natal toe geskuif het in 1992. “Toe hy nog klein was het ek en my pelle vir hom en sy maatjies opgekommandeer om teen ons te speel, en dan het ons hulle bietjie afgeknou. Namate Pieter groter geword het, het ek meer skrikkerig begin raak vir hom…”

Nadat hy sy stewels opgehang het in 1998, het Helgard Müller vir die volgende bykans 10 jaar, en honderde wedstryde, diens gedoen as spanbestuurder van die Cheetahs, en in 2005 en 2006 ook uitgehelp as hulpafrigter vir Rassie Erasmus.

“Dit was ’n bloeitydperk, met baie mooi blommetjies, vir die Cheetahs,” meen Müller. “Wie sal ooit die eindstryd in 2005 op Loftus Versfeld kan vergeet, toe Meyer Bosman daardie hoë skop van Falie Oelschig opgevolg het om die wendrie agter die pale gaan druk.

“Toe Jonathan Kaplan ’n paar minute daarna, met die Bulle wat aanval en ons wat klou aan ’n skrale 29-25 voorsprong, die eindfluitjie blaas, was dit die eerste, en enigste, keer wat ek lief was vir ’n ref. “Van Falie gepraat, hy en Michael Claassens, die twee skrumskakels was die pleister van daardie Cheetah-span, nes Stompie Fourie, Thabo Thomas en Gerrie Sonnekus vroeër jare. “Skrumskakels is van nature woelige manne, moeilikheidmakers, en enige goeie span benodig ’n naughty nr. 9.”

Müller, wat ook ses krieketwedsryde vir Vrystaat gespeel het, het aanvanklik onderwys gegee nadat hy afstudeer het, voordat hy sy huidige posisie as sportbestuurder by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Vrystaat, meer as 20 jaar gelede, ingeneem het