Dugald MacDonald
Full names: Dugald Alexander
Date of birth: 20 Jan 1950
Place of birth: Marianhill
School: Diocesan College (Bishops)
Springbok no: 470
Debut test province: Western Province
Physical: 1.85m, 108.3kg
Current age: 72

Test summary: Tests: 1 Tries: 0
First Test: 22 Jun 1974 Age:24 Eighthman against Britain at Loftus Versfeld, Pretoria
Last Test: 22 Jun 1974 Age:24 Eighthman against Britain at Loftus Versfeld, Pretoria
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv
22 Jun 197424EighthmanBritainLose: 9-28 Loftus Versfeld, PretoriaWP

Ja-Nee, : Albert Heenop

Ja-Nee, Albert Heenop gesels met Dugald Macdonald, wie vandag sy 72e verjaardag vier.

Om ‘n boek te skryf oor die enigste Springboktoets waarin jy ooit sou speel, en dit nogal die rampsoedige tweede toets teen die Britse & Ierse Leeus in 1974, wat Suid-Afrika met ‘n rekordtelling van 9-28 verloor het, is ongehoord. Dit is egter presies die projek wat oud WP-agsteman Dugald Macdonald aangepak het. En, die eindproduk is ‘n unieke stukkie Afrikana.

Let wel, hierdie is nie jou doodgewone rugbypublikasie nie. In die boek, Ja-Nee - The Story Beyond The Game, wat verlede jaar op die rakke verskyn het, gebruik die welbelese en Boheemse Macdonald dié spesifieke toets, in samehang met transkripsies van wyle Gerhard Viviers en Kim Shippey se radiokommentaar van die kragmeting, om die skynbare realiteit van sowel rugby, spesifiek in die Republiek, as die lewe self te bevraagteken.

Die boek is, volgens nog ‘n oud-Ikey en die voormalige Bok-afrigter, Nick Mallett, geskryf met “self-bespieëlende nederigheid en eiesinnige humor, en is ‘n besonderse stukkie leesstof”.

Die saadjie vir die boek was geplant toe McDonald op ‘n ou uitgawe van Huisgenoot, wat ‘n gedenkbylae van die 1974-reeks teen die Leeus bevat het, afgekom het in ‘n tweedehandse boekwinkel in Kalkbaai. “Die storie het vandaar organies ontwikkel en begin met Viviers se openingsopmerking in die transkripsie van sy kommentaar van die toets,” vertel Macdonald.

“Viviers, of ‘Spiekeries’, soos hy bekendgestaan het, het gesê: ‘Hier vanmiddag, voor ‘n skare van 65,000 mense, moet die Springbokke ‘n keerpunt bring. As hulle vanmiddag hier verloor, dink ek, is dit die einde van hierdie reeks, indien nie die einde van Springbokrugby nie... Dit is die belangrikste toets in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby...’

“Wel, daardie toets was inderdaad ‘n totale ramp. “Dit was ‘n halfdosyn van ons, myself ingesluit, se debuuttoets, terwyl nog vier spelers slegs een toets elk agter hul name gehad het. Dit het beteken dat 10 van die 15 spelers hopeloos onervare was, en die druk, soos ek dit onthou, was haas onuithoudbaar.< “Nou, meer as 45 jaar later, het ek hierdie boek as ondersoek geloods, ‘n ondersoek na één wedstryd. “Ek probeer allerlei vrae wat daaruit ontstaan beantwoord, soos hoekom Viviers daardie toets bestempel het as die belangrikste in die geskiedenis. “Wat het die keurders aangevang? Wat het met ons as ‘n Bokspan gebeur?

“Dan, natuurlik, die ongemaklikste vraag van almal: Wat het met my gebeur? Na ‘n leeftyd van droom om eendag daardie gesogte groen-en-goud oor my kop te trek... “Voorts stel die boek ook ondersoek in na die sosio-politiese effek wat daardie Leeu-toer, midde in die apartheid-era, gehad het. “Basies probeer ek, 45 jaar later, sin maak van ‘n klomp dinge. “Dit was ‘n pynvolle proses, om ‘n klomp onsmaaklikhede uit die verlede op te diep. Ek het nietemin ook genot daaruit geput om te skryf oor die bewondering wat ek, as kind, gehad het vir die Bok-embleem, vir die trui...”

Hoewel hy op 20 Januarie 1950 in Marianhill, Pinetown, skuins buite Durban gebore is, is Macdonald ‘n Kapenaar in murg en been. Hy woon steeds in Kaapstad, waar sy Springbokdroom in die laat Vyftigerjare gestalte gekry het.

“Ek besit ook ‘n plaas in die Koue Bokkeveld, en is die enigste boer in die omgewing wat nie Afrikaanssprekend is nie,” skerts hy. “Ek is egter nie ‘n boer in die ware sin van die woord nie, en is bloot mede-eienaar van die appelplaas by Agter-Witzenburg.”

Macdonald is bykans 40 jaar getroud met Marguerite, en hulle het twee seuns, Dugald jr. en Alexander, wat altwee in die Verenigde Koninkryk woon en op hul dag vir Oxford uitgedraf het. Dugald jr besit Sportable Technologies, wat, in samewerking met Gilbert, die eerste ‘slim’ rugbybal, met kits 3D-opsporing en trajekte wat tot op sentimeters akkuraat is, ontwerp het. Alexander werk vir ‘n batebestuurmaatskappy en het vroeër, nes sy pa, ook vir Ikeys gespeel.

Dit was vanuit die Universiteit van Kaapstad dat Macdonald sr. van 1972 tot 1975 vir Westelike Provinsie uitgedraf het, menigmaal op sy geliefde Nuweland. “Ek maak heelwat melding van Nuweland in die boek, en dit was veel meer as bloot ‘n beton-en-sement konstruksie. Vir ons, wat basies daar op die skolierbanke grootgeword het, was dit ‘n plek met hartklop. “Dit was altyd opwindend om Nuweland toe te gaan, die streeptrui aan te trek en op die veld te draf...”

In 1975, na die teleurstelling van 1974, het die reisgogga behoorlik vir Macdonald beetgepak, en het hy sy tasse gepak en koers gekies terug Italië toe, waar hy voorheen reeds twee seisoene by Parma deurgebring het. “Italië het ‘n reuse impak op my lewe gehad,” vertel Macdonald, wat vlot Italiaans praat. “Dit was uiteindelik danksy fantastiese vriendskapsbande wat ek in Parma opgebou het, dat ek vir ongeveer 40 jaar die Suid-Afrikaans agent was vir Simonazzi, wat volledige produksielyne vervaardig vir brouery en koeldrankfabrieke.”

Daarna, het Macdonald die Oxford Blues vir twee agtereenvolgende seisoene verteenwoordig, saam met sy broer, Donald Macdonald, wat in sewe toetse (1977-78) vir Skotland gespeel het. Nadat hy ook die Blues aangevoer, het Dugald Macdonald gedurende die laat Sewentigerjare in Toulouse, Frankryk, opgeëindig, waar hy die klub se lostrio voltooi het saam met twee van die grootste legendes in Franse rugby, Jean-Pierre Rives en Jean-Claude Skrela.

“Rives was die toonbeeld van wat elke Fransman wou gewees het: aantreklik, intelligent en met ‘n horde mooi meisies agter hom aan,” onthou Macdonald. “Dit het natuurlik ook ‘n nadeel gehad in dié sin dat elke opponent Rives se kop wou inmekaar skop. Daardie was ‘n era toe rugby in Frankryk uiters geweldadig was.”

Lank nadat sy rugbydae iets van die verlede was, het Macdonald (72), wat steeds ‘n kranige branderplankryer is, ander aktiwteite uitgesoek om sy avontuurlus te stil. Soos toe hy en ‘n maat 5000km oor die Atlantiese Oseaan geroei het in 2001. Of toe hy vier jaar later ook ‘n tog na die Magnetiese Noordpool aangepak het.

“Ek is egter nie ‘n beroepsavonturier is nie; bloot ‘n avontuurlustige amateur,” sê hy. “Tydens ‘n Ikeys-toer na Rhodesië in 1970, het ek ‘n boek gelees van Tom McClean, wat die eerste persoon was om alleen oor die Atlantiese Oseaan te geroei het. “My goeie vriend, Dave Mitchell, hoewel ‘n mediese student, was ook aangetrokke tot hierdie tipe stories, en laat een aand, nadat ons meer as die normale kwota bier ingehad het, het ons ‘n dronkmansbelofte afgelê om eendag saam oor die Atlantiese Oseaan te roei. “Ons het dit Plan-X gedoop, maar niemand daarvan vertel nie.

“Jare het verloop en Dave het uiteindelik na Australië geëmigreer. Tog sou hy my van tyd tot tyd in die middel van die nag bel en vra: ‘Wat het geword van Plan-X?’ “Familie- en werksverpligtinge het egter die neiging om bepaalde drome te laat vervaag. “Dit was totdat ek, meer as 30 jaar later, ‘n artikel raakgelees het oor ‘n Trans-Atlantiese roei-resies, sonder hulp, oor ‘n afstand van 5000km van Tenerife na Barbados. “Ek het op die ingewing van die oomblik ingeskryf, en ook vir Dave gebel: ‘Plan-X? Is jy gereed?’ “So het dit gekom dat ons van die hawe in Playa San Juan vertrek het, en vir 76 dae oor die Atlantiese oseaan geroei het. Dis ongelooflik dat die tog ons twee jaar geneem het om te beplan, en twee maande om te voltooi. “Die blywende herinnering van daardie ervaring was om vir dae en nagte aaneen eenvoudig in die middel van nêrens te gewees het.

“Dieselfde geld vir die 400km-tog na die Magnetiese Noordpool. “Dit was selfs gevaarliker aangesien ‘n mens in die Noordpoolsirkel met temperature van minus-45 grade te doen kry.

“Altwee ekspedisies het die kleedkamer-tipe adrenalien laat vloei...”