Snowy Suter
Full names: Melvyn Roy
Date of birth: 14 Dec 1939
Place of birth: Durban
School: Mansfield
Springbok no: 403
Debut test province: Natal
Physical: 1.86m, 90kg
Date of death: 15 Jan 2023 (Age 83)

Test summary: Tests: 2 Tries: 0
First Test: 10 Apr 1965 Age:25 Flank against Ireland at Aviva Stadium (Lansdowne Road), Dublin
Last Test: 17 Apr 1965 Age:25 Flank against Scotland at Murrayfield, Edinburgh
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv
10 Apr 196525FlankIrelandLose: 6-9 Aviva Stadium (Lansdowne Road), DublinNatal
17 Apr 196525FlankScotlandLose: 5-8 Murrayfield, EdinburghNatal

Snowy Suter : Albert Heenop

Vandag, maak Snowy Suter deel uit van uitgelese geselskap. Die voormalige Natal-flank (1961-67) val onder die top-20 oudste lewende Springbokke.

Wat Suter se situasie des te meer merkwaardig maak, is die feit dat Melvyn Roy Suter op 14 Desember 1939 in Durban gebore was met ’n gat in sy hart. “Ek moes die Opelugskool in Glenwood bywoon, ‘n skool vir liggaamlik gestremdes,” vertel Suter. “My twee ouer broers het skoolgegaan aan Mansfield High, die eertydse seunsskool in die middestad van Durban, en ek het knaend aan my ouers getorring om ook Mansfield toe te gaan, sodat ek ook aan sport kon deelneem. “Ek kon egter skaars 10m hardloop sonder om flou te val.

“My ma het daagliks aanhou bid vir my, en op ’n dag het my pa, ’n groot, sterk Aussie, wat ’n grofsmid van beroep was en selfs in die sirkus gewerk het, vir haar gesê: ‘Kom ons gee hom maar ’n kans…’

“Tot die misnoeë van my broers is ek toe ook Mansfield toe. Hulle moes my elke keer optel wanneer ek flougeval het.

“Uiteindelik het Billy, wat een van die skool se top atlete was, vir my gesê: ‘Hierdie dêm ding is ’n hart, dis ’n spier; jy moet hom oefen!’

“Dit was sy teorie, en hy het gereël dat ek aan ’n o.10-afloswedloop deelneem - as laaste hardloper. Ons was so ver voor dat ek basies net hoef te geloop het om ons te laat wen, maar ek moes eenvoudig probeer hardloop en, natuurlik, kon ek nie klaarmaak nie.

“So het dit aangehou, en uiteindelik het Billy my ook gekry om rugby te probeer. Dit was, vir ongeveer ’n halwe seisoen, ’n ramp, want voor die bal my nog bereik sou ek flouval. “Die toestand het nietemin stelselmatig verbeter, en hoe meer ek gespeel het, hoe meer het my selfvertroue toegeneem.

“My ouers was egter onbewus van die rugbyspelery - totdat ek my arm gebreek het. “Ma was histeries, maar my pa het eenvoudig gevra: ‘Weet jy dat jy, met jou toestand, kan doodgaan as jy rugby speel?’ “Ek het ‘Ja’ geantwoord, waarop hy verder gevra het: ‘Maak dit jou gelukkig om rugby te speel?’ “Toe ek weer ‘Ja’ antwoord, het hy bloot gesê: ‘Nou gaan dan gelukkig dood…’

Snowy Suter sou voortgaan om, in 1965, Mansfield se eerste en enigste Springbok te word.

Twee van Suter se susterskinders, Malcolm Swanby (heelagter) en Stan Holmes (skrumskakel), sou hulself ook onderskei as Natal-helde in die sewentigerjare. Benewens dat aldrie skoolgegaan het aan Mansfield, was hulle ook staatmakers van Durban Collegians.

Om die waarheid te sê, Suter beskou die dag toe hy Collegians se eerstespan gehaal het as bykans net so ’n groot oomblik soos toe hy sy Springbokkleure ontvang het - deels omdat dit in die sestigers taai was om vir Collegians se eerstes gekies te geword het.

“Die legendariese Izak van Heerden, wat ook vir Natal afgerig het, was Collegians se breier, en ons verhouding het op ’n wankelrige wyse afgeskop,” onthou Suter.

“Ek het op skool in die agterlyn gespeel, en tydens my eerste oefening by Collegians op losskakel stelling ingeneem. Na ’n rukkie het Izak my nadergeroep met: ‘Mansfield! Ja jy, Mansfield! Kom hier!’

“Ek het my skooltrui aangehad en hy het uiteraard nie geweet wie ek is nie.

“‘Jy’s nie ’n losskakel se dinges nie!’ het hy my toegesnou.

“‘Kyk daar,’ het hy voortgegaan, en na Keith Oxlee gewys.

“‘Dis die Springbok-losskakel,’ het ek gesê.

“‘Dit weet jy darem,’ het hy geantwoord, ‘maar dis ook al wat jy van losskakelspel weet. Jy’s ’n flank.’

“Ek het nog nooit voorheen in die skrum gespeel nie, en geweier.

“‘Trap dan van my veld af,’ was sy eenvoudige reaksie.

“Ek was uit die veld geslaan, maar op pad huis toe, het die klubkaptein en Natal-stut Chris Klopper oorgestap en gesê: ‘Snowy, die dag as Izak ophou skree en ophou om met jou te argumenteer, dan moet jy padgee. Want dan stel hy nie belang in jou nie.

“‘Hy het duidelik iets in jou raakgesien, waarvan jy self waarskynlik nie eens bewus is nie. Gaan terug en sê vir hom jy sal flank uitprobeer.’

“Druipstert is ek toe terug, waar ek heelaand op die kantlyn gestaan en roep het: ‘Mnr Van! Mnr Van!’

“Hy’t my soos ’n stopstraat geïgnoreer, tot aan die einde van die oefening, toe hy na my toe draai en vra: ‘Wat soek jy?’

“Hy het my ’n rowwe konsep van die boek The Complete Loose Forward, waaraan hy besig was om te skryf, in die hand gestop met die opdrag: ‘Jy was op Mansfield; ek hoop jy kan lees! Bestudeer die rol van die flank, en behoede jou as jy enige van die blaaie verloor!’

“Dis hoe ek ’n flank geword het.”

Suter moes mooi opgelees het oor die rol van ‘n flank, want hy’t in 1961, op 21-jarige ouderdom, sy debuut vir Natal gemaak - saam met nog ’n belowende jong losvoorspeler by name Tom Bedford.

Die twee het in ’n gedugte kombinasie ontwikkel en ’n reuse rol gespeel in Natal se sensasionele oorwinning van 14-13 oor John Thornett se Wallabies in 1963.

Die geskiedskrywer, wyle Alfred Herbert, beskryf hulle buitengewone kwaliteite as volg in die boek The Natal Rugby Story:

“Suter was ’n genot om dop te hou. Hy het oor dieselfde posisionele voorgevoel as Bedford beskik.

“By die eerste blik mag dit voorgekom het asof hulle weg van die bal af beweeg het - dan, eweskielik, was hulle by die afbreekpunt: ’n tipe van ingeboude radar.”

So indrukwekkend was Suter se opgang dat hy op 10 April 1965 sy buiging vir Suid-Afrika gemaak het teen Ierland op Lansdowne Road in Dublin.

“Ek was aanvanklik nie ingesluit in die toetsspan nie, en het dit ook nie verwag nie,” erken hy.

“Dus, het Frik du Preez, wat eienaardig genoeg óók nie in gekies was nie, voorgestel dat ons uitgaan die aand voor die toets.

“Ek was nooit eintlik iemand wat iets gebruik het nie, maar met Frik in die rondte was dit ’n kwessie van: ‘Wat drink jy?’

“Hy het vir my ’n gin en tonikum bestel. En, nog ’n paar daarna.

“Later die aand kon ons nie ons weg terugvind hotel toe nie, totdat ’n huurmotorbestuurder die hotel vir ons opgespoor het.

“Ek was nog vas aan die slaap die volgende oggend, teen ongeveer 6.00vm, toe iemand my aan die groottoon rondpluk en luidkeels verkondig: ‘Snowy, word wakker! Geluk! Jy speel vandag in die toets!’

“Dit was ons kaptein, Avril Malan; hy’t verduidelik dat agsteman Doug Hopwood ’n besering opgedoen het, dat Tommy Bedford van flank na agsteman moes skuif en dat ek op flank in sy plek moes speel.”

Suter sou in altwee toetse op die kort toer van 1965, teen Ierland en Skotland, speel, maar Suid-Afrika het albei verloor en hy was een van die ongelukkiges wat daarna die trekpas gekry het. Die hardwerkende flank het egter voortgegaan om Natal 62 keer met onderskeiding te verteenwoordig.

Snowy en Irene Suter, sy wederhelfte van meer as 50 jaar, woon in ’n aftreeoord in Waterfall, buite Durban. Hulle het drie kinders, Kevin, Guy en Debbie, en agt kleinkinders.