Willem Stapelberg
Full names: Willem Pieter
Date of birth: 29 Jan 1947
Place of birth: Pretoria
School: Hendrik Verwoerd
Springbok no: 482
Debut test province: Northern Transvaal
Physical: 1.8m, 85kg
Current age: 75

Test summary: Tests: 2 Tries: 2
First Test: 23 Nov 1974 Age:27 Right Wing against France at Stade Municipal, Toulouse
Last Test: 30 Nov 1974 Age:27 Right Wing against France at Parc des Princes, Paris
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv
23 Nov 197427Right WingFranceWin: 13-41 tryStade Municipal, ToulouseN-Tvl
30 Nov 197427Right WingFranceWin: 10-81 tryParc des Princes, ParisN-Tvl

Willem Stapelberg : Albert Heenop

Hierdie kompakte vleuel van die Ligbloues kon behoorlik rieme neerlê, en het reeds in 1968, op 21-jarige ouderdom, sy vuurdoop in ‘n Curriebeker-eindstryd gevier met ‘n drie.

Willem Stapelberg was beskore vir hoër louere, maar ‘n rits fratsbeserings het jaar na jaar sy groen-en-goud drome aan skerwe laat lê. Uiteindelik kon hy darem, toe hy ses jaar later op die drumpel was om sy tokse op te hang, sy toetsdebuut vier met ‘n drie vir Suid-Afrika teen Frankryk. Inteendeel, hy het in die twee toetse wat hy in 1974 vir die Springbokke gespeel het, elke slag agter die doellyn gaan kuier.

Deesdae vat die 75-jarige Stapelberg dinge rustiger. “Smôrens doen ek niks, maar smiddae moet hulle my uitlos dat ek ‘n bietjie kan rus,” spot hy. “Ons is ‘n klompie afgetrede ouens in Pretoria wat mekaar besig hou; ons braai en toer saam. Ek hou ook van tuinwerk, en is mal oor sudoku en legkaarte... “As ‘n mens jou weer kom kry is die dag verby.”

Willem en Andrea Stapelberg is meer as 35 jaar getroud, en hul seun, Willem jr, het in 2003 op linkervleuel uitgedraf vir Pumas-skole - met JP Pietersen op regtervleuel en Duane Vermeulen op agsteman.

“Willem bly in Nelspruit, waar ons vir ongeveer 16 jaar gewoon het, en is in IT werksaam,” vertel Stapelberg. “Ek en Andrea beplan om uiteindelik finaal te gaan uitspan in die Laeveld.”

Stapelberg het ook twee dogters uit ‘n vorige huwelik. “Eunyce is ‘n skoonheidsdeskundige in Silverlakes, terwyl Dianne in Perth woon, waar sy betrokke is by liefdadigheidswerk; sy’s die een met die sagte hart...” Sowel Eunyce as Dianne het Noord-Transvaal-kleure in netbal verwerf.

Willem Pieter Stapelberg is op 29 Januarie 1947, in Pretoria, in die wêreld gebring. “Ek was gebore toe Wonderboom nog ‘n potplant was,” skerts Stapelberg, wat in Graad 2 op Laerskool Eben Swemmer, in die hart van die Moot, as skrumskakel begin rugby speel het. Hy het later senter toe geskuif, waar hy regdeur sy hoërskoolloopbaan gespeel het aan Hendrik Verwoerd, wat ook Springbokke soos Darius en Naas Botha, en Uli Schmidt sou oplewer.

“Uli se pa, wyle Louis Schmidt, was my Biologie-onderwyser, en hy was die enigste ou wie se huiswerk ek gereeld gedoen het,” vertel Stapelberg. “Louis het ons nie pakslae gegee nie; hy’t jou sommer met die plat hand tussen die blaaie geklap dat jy trek.”

Stapelberg het in matriek aan die Noord-Transvaal-skole proewe deelgeneem, maar nie die Cravenweekspan gehaal nie. “Die twee senters teen wie ek te staan gekom het, was altwee van die Hoër Landbouskool Brits en ek was oortuig dat hulle reeds boere was. Hulle het nie gesukkel om draaie om ‘n mens te hardloop nie; hulle het sommer bo-oor jou koers gekies.”

Na skool, het Stapelberg met opleiding begin aan die Suid-Afrikaanse Polisiekollege, Pretoria, en dit was so hittete of hy het ophou rugby speel. “Ek het belangstelling verloor, maar toe ek hoor dat rugbyspelers naweke afkry, het ek maar weer my stewels afgestof,” vertel hy. Die rugby het floreer, en Stapelberg het skaars Noord-Transvaal o.20 gespeel toe die legendariese brig Buurman van Zyl hom in 1967 nadergetrek het vir die seniors.

“Tydens een van my eerste oefeninge het Buurman aan lynstane gewerk en ek, as nuweling-vleuel, moes die slotte vind; Frik (du Preez) op Nr 3 en Sakkie de Klerk op 5,” onthou Stapelberg. “Piet Uys, skrumskakel en kaptein, het die tekens gegee, maar toe ‘lees’ ek 5 i.p.v. 3, en gooi diep. Frik het gespring, soos net Frik kon, maar kon nie bykom nie. “Hy het egter droogweg van hom laat hoor: ‘Stapie, sak bietjie; daai was toetshoogte...’

“Kort daarna, het Noord-Transvaal Windhoek toe gevlieg vir ‘n wedstryd teen Suidwes-Afrika, wat nog deel uitgemaak het van die Curriebeker-kompetisie. “Boere van die kontrei het by Buurman toestemming gekry om die driemanskap, soos Frik, Mof (Myburgh) en Piet Uys bekendgestaan het, ná die wedstryd vir ‘n boere-onthaal op ‘n plaas te nooi. “Die Sondagoggend was die span betyds op die lughawe vir die terugvlug Johannesburg toe, sonder dié drie. Die Brigadier het natuurlik erg onrustig begin raak, maar voor ons enige verskonings kon bedink, het ‘n bakkie aangejaag gekom - met die driemanskap agterop. “Mof het ‘n vinnige draai by die lughawe-kiosk gemaak, toe die tannie by die kiosk vir hom gevra het, met ‘n swaar Duitse aksent, of hulle darem hul tydjie in Suidwes geniet het. “‘Och, ek hebt een woelige aand gehebbe...’ was die ou grote se antwoord.

“Mof het ‘n droë sin vir humor gehad. Gerhard Viviers het vertel van die slag op die Springbokke se betogertoer van Brittanje in 1969, toe Mof een aand die tafelgebed moes waarneem. “Hy het binnensmonds gemompel en slegs afgesluit met ‘n duidelik hoorbare ‘Amen’. Toe die ouens kla dat hulle nie kon hoor wat hy gebid het nie, was Mof se reaksie eenvoudig: ‘Ek het nie met julle gepraat nie’.”

Stapelberg was juis geoormerk om saam met die Bokke te getoer het in 1969, verál na sy blink vertoning vir Noord-Transvaal in die vorige jaar se oorwinning van 16-3 oor Transvaal in die Curriebeker-finaal. Die noodlot het egter ander planne gehad, en in ‘n klubwedstryd het hy teen die kantlyn afgenael en oor emmers vol water, wat vir halftyd daar neergesit was, “geneuk”. “Ek het my mediale ligamente geskeur,” vertel Stapelberg. “Wyle Renier Grobler het my vervang in die Noord-Transvaalspan, en het uiteindelik ook die Springboktoerspan na Brittanje gehaal...” (Grobler, wat in die Lugmag was, het twee jaar later tragies omgekom in ‘n vliegongeluk teen die hange van Tafelberg tydens Suid-Afrika se Republieksfeesviering in 1971.)

Stapelberg was ‘n geruime tyd buite aksie maar het sodanig herstel dat hy in 1971 na die finale Springbokproewe in die Kaap genooi was. “Dit het swaar gereën, soveel so dat Nuweland onder water was. Dus is die proewe na Rondebosch geskuif. “Tydens die proefwedstryd het ek in die modder gegly en op my skouer geval, met al die voorspelers wat bo-oor my gestort het. Ek het spiere in my skouerblad geskeur, en was weer onder die mes. “En, die daaropvolgende seisoen het ‘n elmboog my wangbeen getref, en die vloer van my oog gekraak. “So, ja, ek het ‘n paar rowwe jare deurgemaak.”

Noord-Transvaal het twee agtereenvolgende Curriebeker-titels gewen in 1973 en 1974, toe hulle vir Vrystaat (33-22) en Transvaal (17-15) onderskeidelik die loef afgesteek het, en Stapelberg het in altwee finale uitgeblink. Groot was sy verbasing toe hy na afloop van die Curriebeker-finaal van 1974, aangewys was in die Springboktoerspan na Frankryk. “Ek het voor die finaal aan koerantman Neil Steyn gesê dat dit ‘n goeie noot vir my sou gewees het om my loopbaan op af te gesluit het as Noorde die Curriebeker weer kon inpalm. Bobbies (Pretoria Polisie), vir wie ek 10 jaar gespeel het, het juis in 1974 ook die Carltonbeker-liga ingepalm. “Nou, ja, toe ek boonop vir die Bokke gekies word, het ek besluit: Nee, wag, dan gaan ek maar saam Frankryk toe...

“Wyle Carel Fourie en Chris Pope was as onderskeidelik spesialis linker- en regtervleuel gekies vir die toer, terwyl ek waarskynlik meer as ‘n veelsydige agterlynspeler ingesluit was. Ek sou egter skrummie ook gespeel het, as dit moes. “Gelukkig was die toerwedstryde waarin ek betrokke was nie moeilik nie, en kon ek beïndruk, met die gevolg dat ek en Carel gekies was as vleuels vir die twee toetse.” Dit was inderdaad die kersie op die koek vir Willem Stapelberg, en hy het die geleentheid behoorlik aangegryp om sy loopbaan op ‘n hoogtepunt af te sluit.

Nie alleen het hy Suid-Afrika se enigste twee drieë in die reeks van twee toetse, wat die Bokke met 13-4 en 10-8 gewen het, gedruk nie, hy was ook aangewys as een van Suid-Afrika se vyf Rugbyspelers van die Jaar vir 1974.