Sakkie Sauermann
Full names: Johannes Theodorus
Date of birth: 16 Nov 1944
Place of birth: Alberton
School: Amsterdam
Springbok no: 449
Debut test province: Transvaal
Physical: 1.83m, 102.1kg
Date of death: 13 Jun 2014 (Age 69)

Test summary: Tests: 5 Tries: 0
First Test: 12 Jun 1971 Age:26 Loose-head Prop against France at Free State Stadium, Bloemfontein
Last Test: 8 Jun 1974 Age:29 Loose-head Prop against Britain at Newlands, Cape Town
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv
12 Jun 197126Loose-head PropFranceWin: 22-9 Free State Stadium, BloemfonteinTvl
19 Jun 197126Loose-head PropFranceDraw: 8-8 Kingspark, DurbanTvl
17 Jul 197126Loose-head PropAustraliaWin: 19-11 Sydney Cricket Ground, SydneyTvl
03 Jun 197227Tight-head PropEnglandLose: 9-18 Ellispark, JohannesburgTvl
08 Jun 197429Loose-head PropBritainLose: 3-12 Newlands, Cape TownTvl

Sakkie boer nou, en bly 'n Rooibonte : Sarel van der Walt

MICA (Hoedspruit) 20 Jul 1992.

Met sy drie in die doodsnikke van die Curriebeker-eindstryd in 1971 teen Noord-Transvaal op Ellispark het die Springbok Theo (Sakkie) Sauermann sy naam in die geskiedenis van Transvaal-rugby verewig. Daardie drie onder die ou sogenaamde glaskas op Ellispark was die gelykmakende drie en Transvaal en Noord-Transvaal het die Curriebeker gedeel. Die telling was 14-14.

Vandag is die 47-jarige Sauermann, wat in vyf toetse vir die Springbokke loskopstut gespeel het, 'n bees- en besproeiingsboer op die oewer van die Olifantsrivier. ''Ek het ook so 'n bietjie wild,' gesels Sauermann.

Hy is een van die boere langs die Olifantsrivier wat van die seekoeie in die rivier verkoop ten einde voer vir die oorblywende seekoeie aan te koop om hulle deur die droogte te sien.

Sauermann het van 1968 tot 1974 vir Transvaal gespeel. Sy hart is vandag nog net so rooibont soos toe. ''Die Curriebeker gaan vanjaar al die pad Ellispark toe!'' sê hy. Sy naambordjie by sy plaas langs die Olifantsrivier is hoeka ook rooi en wit geverf. ''My pêlle bemors hom so nou en dan met blou verf!''

Sauermann, wat vir die gevreesde klub Diggers gespeel het, het sowat sewentig keer vir Transvaal uitgedraf. ''In my jare het ons nie soos vandag ons wedstryde getel nie.'' In daardie jare is Transvaal afgerig deur prof. Pa Pelser wat later weer heelwat sukses met Transvaal se rugbyspan behaal het. Spelers soos Jannie van Deventer, Tobias du Toit, Tommy Simons, Peter Cronjé, Gerald Bosch, Paul Bayvel, Martiens Louw, Piet Greyling en Simon Norwood was daardie jare Sauermann se Rooibont-spanmaats.

Die Curriebeker-eindstryd van 1971 sal nie net onthou word vir die gelykmakende drie wat Sauermann gedruk het nie, maar ook omdat dit die legendariese Frik du Preez se laaste provinsiale wedstryd was.

Buiten die vyf toetse waarin hy gespeel het, het Sauermann in Australië ook in ses gewone toerwedstryde die Springboktrui oor die kop getrek. Hy het in toetse teen Australië, Frankryk, Engeland en die Britse Leeus gespeel.

''Ek het ook in daardie 'verskriklike' toets in 1972 teen Engeland op Ellispark gespeel.'' Daardie dag is Springbok-rugby tot in sy fondamente geskud toe John Pullin se Engelse Piet Greyling se Springbokke met 18-9 geklop het.

Greyling was in 'n stadium so raadop met die Springbokke se skopwerk dat hy selfs vir Sauermann (wat so nou en dan vir Diggers in klubwedstryde pale toe geskop het) 'n strafdoel pale toe laat waarneem het. Dit was 'n regte 'donkie-drop' en die bal het nie eens naby die pale uitgekom nie!

Sauermann se toetsrugby het ná die eerste toets teen Willie John McBride se gevreesde Leeus in 1974 op Nuweland tot 'n einde gekom. Die Springbokke het dié toets verloor (12-3) en verskeie spelers, onder wie Sauermann en Gerald Bosch, is uit die span gelaat.

''Ek sê nog as hulle nie aan daardie span getorring het nie, sou die Bokke baie beter in die reeks gedoen het,'' meen Sauermann. Die Leeus het in daardie reeks drie toetse gewen en die vierde toets op Ellispark het gelykop geëindig.

In 1972 het Transvaal ook die Curriebeker gewen deur Oos- Transvaal op Springs in die eindstryd te klop. Dit was die laaste keer wat die Curriebeker Ellispark toe is.

Twee jaar later, in Sauermann se laaste seisoen, het Transvaal in die eindstryd op Loftus Versfeld teen Noord-Transvaal verloor (17- 15).

''Ons moes daardie wedstryd gewen het. Ons was 20 punte beter as hulle, maar hulle het ons geklop.'' Met daardie eindstryd is Transvaal se Springbok-haker, Dave Fredrickson, met die afskop sodanig beseer dat hy die veld op 'n draagbaar moes verlaat.

Die nuwe Loftus Versfeld was nog in aanbou en waar die hoofpaviljoen vandag staan was net hope grond en bou-materiaal.

''Ek is nou so sewentien jaar hier in die Laeveld - het 'n jaar nadat ek opgehou het met rugby hierheen verhuis,'' vertel die vriendelike Sauermann. Voordat hy hom langs die Olifantsrivier kom vestig het, het Sauermann tien jaar lank langs die Letabarivier geboer. ''Op die plaas Belasting dis die laaste plaas voordat die Letabarivier in die Kruger-wildtuin invloei.''

Hy is getroud met Cecilia en hulle het vier kinders. Hulle is Adelé (22), wat op Phalaborwa werk, Theo (21), 'n student by die landboukollege op Nelspruit, Paul (13), wat in st.6 is, en Manfred (9), wat in st. 2 is.

Manfred speel net soos sy pa loskopstut. ''Hy is so maer dit lyk of hy nooit kos kry nie, maar is 'n sterke derduiwel!'

- Sarel van der Walt