Daan du Plessis
Full names: Daniël Coenraad
Date of birth: 9 Aug 1948
Place of birth: Potchefstroom
School: Volkskool, Potchefstroom
Springbok no: 496
Debut test province: Northern Transvaal
Physical: 1.83m, 107kg
Current age: 75

Test summary: Tests: 2 Tries: 0
First Test: 27 Aug 1977 Age:29 Tight-head Prop against World Invitation at Loftus Versfeld, Pretoria
Last Test: 3 May 1980 Age:31 Tight-head Prop against South America at Kingspark, Durban
Test history:
DateAgePositionOpponentResultScoreVenueProv
27 Aug 197729Tight-head PropWorld InvitationWin: 45-24 Loftus Versfeld, PretoriaN-Tvl
03 May 198031Tight-head PropSouth AmericaWin: 18-9 Kingspark, DurbanN-Tvl

Dok Daan : Albert Heenop

Dr. Daan du Plessis is al bestempel as een van die wêreld se voorste ortopete. Hy het geslaagde knieoperasies uitgevoer op bykans 45 Springbokke - dis gelykstaande aan drie rugbyspanne - wat almal daarna weer kon speel.

Van die groot name wat suksesvol onder Du Plessis se mes deurgeloop het sluit in Ruben Kruger, Joost van der Westhuizen, Victor Matfield, Bakkies Botha, Ashwin Willemse, Fourie du Preez en Handré Pollard.

“Dis die lekkerte van chirurgie; om ouens soos hierdie weer te sien speel,” erken Du Plessis. “Ek moes vir Joost drie keer opereer, en hy kon elke keer weer vir die Springbokke uitdraf.”

Eienaardig genoeg het Du Plessis se belangstelling in chirurgie sy oorsprong in houtwerk gehad. “Ek het as seun daarvan gehou om houtwerk te doen, en toe my suster met ‘n ortopeet trou, het chirurgie vir my nes houtwerk gelyk!” vertel hy.

Dit is egter aan Naas Botha te danke dat Du Plessis homself uiteindelik in die wêreld van kniechirurgie begewe het. “Ek het aanvanklik in handchirurgie gespesialiseer,” onthou hy. “Maar toe moes ek op ‘n stadium Naas se knie opereer, en hy het my agterna oorreed om my op daarop toe te spits.”

Volgens Du Plessis speel moderne tegnologie ‘n groot rol. “Die herstelsyfer van veral knievervangings het radikaal verbeter. Maar, ‘n mens moenie onnodig ‘n knievervanging laat doen nie; dis ‘n laaste uitweg, basies as jy glad nie meer kan loop nie.”

Ironies genoeg, sukkel Du Plessis self met sy knieë. “My heup is ook nie meer lekker nie, maar ek probeer uithou totdat ek regtig nie meer kan nie,” sê hy. “Dis maar rugby.

“Soos wyle prof. Daan Swiegers (voormalige Springbok-keurder) altyd gesê het, ‘n man wat herinneringe het, leef twee keer.”

Van twee lewens gepraat, Daan du Plessis opereer nie net op Springbokke nie, hy het self vir Suid-Afrika in twee toetse op vaskopstut verteenwoordig, en het die Ligblou-trui van Noord-Transvaal 87 keer oor die kop getrek (1973-80).

Dit ten spyte van die feit dat hy op Hoër Volkskool Potchefstroom nie ‘n Eerstespan-plek kon losspeel in die Volkies-voorry nie. “Ek moes maar slot speel,” vertel hy. “Dit was eers toe ek op Tuks studeer het en vir die O/20-span gekies is dat my rugbyloopbaan ontplof het.

“Daar was baie geluk betrokke - ek het byvoorbeeld nie Cravenweek gespeel nie - maar dit was ‘n ongelooflike ervaring om rugby te kon speel.”

Du Plessis maak in 1973 sy Blou Bul-buiging teen Oostelike Provinsie op die ou Boet Erasmus-stadion. Die glorie-era onder die legendariese brig. Buurman van Zyl het toe hoogty gevier. “Buurman kon ‘n mens motiveer om bo jou vermoë te speel; hy was ‘n merkwaardige man.

“‘n Groot ding vir ons nuwelinge daai dag was ook die feit dat Gerhard Viviers die wedstryd op die radio sou uitsaai. Hy was ‘n ikoon.”

Du Plessis sak daardie seisoen reeds in die Ligblou-voorry vir die Curriebeker-eindstryd teen Vrystaat, wat Noord-Transvaal met 30-22 wen.

Vir die daaropvolgende finaal, teen Transvaal in 1974, moet die jongeling egter op loskop uithelp, en kom hy teen kragman Johan Strauss te staan. “Johan was ongetwyfeld die moeilikste ou teen wie ek ooit moes skrum,” gee Du Plessis toe.

Dis ‘n naelbytstryd maar die Ligbloues hak die knoop deur met ‘n oorwinning van 17-15. Daan du Plessis sou Noord-Transvaal in ses Curriebeker-finale verteenwoordig, en hy was nie een keer aan die verloorkant nie. Boonop moes hy in 1979 ter elfder ure die leisels van kaptein oorneem vir die eindstryd teen Westelike Provinsie op Nuweland.

Thys Lourens (Noord-Transvaal-kaptein, 1974-79) het ‘n skouerbesering opgedoen voor die finaal,” verduidelik Du Plessis. “Ons het, danksy ‘n skepdoel deur Naas in die doodsnikke, met 15-15 gelykop gespeel, en Morné du Plessis (WP-kaptein) se gesig, op die foto waar ek en hy die beker saam omhoog hou, vertel die verhaal van hoe teleurgesteld WP was.”

Daan du Plessis het twee jaar vroeër sy toetsbuiging gemaak met ‘n Springbok-oorwinning van 45-24 oor ‘n Wêreld 15-tal, ter opening van die nuwe Loftus Versfeld op 27 Augustus 1977 - en dit op 28 jaar!

“Ek was reserwe teen die All Blacks in 1976, maar is elke keer oor die hoof gesien wanneer ‘n nuwe voorry aangewys is,” vertel hy. “Dus was ek redelik depressief.

“Boonop het my studies eerste gekom, en het ek aan die begin van 1977 nie rugby gespeel nie om daarop te konsentreer. Oom Buurman het halfpad deur die seisoen my gevra om weer te speel en ek het, tot my verbasing, ‘n Bok geword.

“Die ultimate vir my was toe dr. Danie Craven die Bokbaadjie vir my aangetrek het.

“My held as kind was Mannetjies Roux, en daardie aand het hy my handtekening kom vra, vir sy seun...”

Sportboikotte teen Suid-Afrika het veroorsaak dat die Springbokke eers in 1980 weer sou speel, teen Hugo Porta se Suid-Amerikaanse Jaguars.

Du Plessis speel in die tweede toets, maar ‘n nekbesering in ‘n Curriebeker-wedstryd ‘n paar weke later noop hom om sy stewels op te hang - op 31. “Ek het die raad van omtrent sewe dokters ingewin, maar siende dat ek self ‘n dokter is het ek besef hoe groot die risiko was.”

Daan du Plessis het vier kinders: Ann-Marie, ‘n radioloog in die Kaap; Carolyn, ‘n fisioterapeut in Swakopmund; Stephanus, ‘n amptenaar by Capitec Bank in die Kaap; en Jeanne, wat in Londen bly en werk in ‘n gimnasium.

Sy eerste vrou, Carolyn, is op 49-jarige ouderdom aan breinkanker oorlede, maar hy is die afgelope 20 jaar weer getroud met Alida, “‘die nurse wat saam met my in die teatersaal gewerk het...”

Al is hy al in sy sewentigs, laat sy liefde om met sy hande te werk hom nie toe om stil te sit in sy vrye tyd nie. “Ek beoefen fotografie; maak juwele, bou stoomtreine, doen houtwerk... Dis my stokperdjies en ek is redelik ernstig daaroor. “Naweke is min en mag nie vermors word nie...” meen hy.